Gedagte vir die dag: Laat u koninkryk kom

Stiltetyd_wolke_plaas_Floris-Booysen-13.jpg

Foto: Floris Booysen

‘Ek is,’ het Jesus geantwoord, ‘en julle sal die Seun van die mens sien waar Hy sit aan die regterhand van Hom wat magtig is, en wanneer Hy kom op die wolke van die hemel.’ (Markus 14:62)

Net soos God is Jesus ook Here. En wanneer Hy in sy heerlikheid ver­skyn om die aarde te beoordeel, sal almal voor Hom neerval en Hom aanbid. Die hoëpriester, Kajafas, het Jesus die nag voor sy kruisiging namens die Joodse raad reguit gevra of Hy die Christus is – in sy woorde – ‘die Seun van Hom aan wie lof toekom’ (lees Markus 14:61).

Jesus het geantwoord: ‘Ek is.’

Kajafas het sy klere geskeur, pandemonium het losgebars en die Joodse raad het Jesus eenparig ter dood veroordeel. Party het Hom ook bespot, geblind­doek, met stokke geslaan en op Hom gespoeg. Hulle wat uit eerbied nie eens die Here God se Naam hardop wou uitspreek nie, slaan ‘Ek is’ met stokke.

By ’n vorige geleentheid het die Fariseërs Jesus gevra wanneer die koninkryk van God dan kom en Hy het geantwoord: ‘Die koms van die koninkryk van God kan nie uit voortekens bereken word nie. Hulle sal nie kan sê: “Kyk hier is dit!” of: “Daar is dit!” nie, want die koninkryk van God is hier by julle’ (Luk 17:20).

Hulle het nie verstaan dat hulle in die teenwoordigheid van die Koning van alle konings staan nie – Jesus, God by ons.

Wanneer ons bid dat die koninkryk van God moet kom, bid ons nie net vir sy oorwinnende terugkeer nie, maar ook vir die koms van sy koninkryk in ons eie harte.

Here, ek buig my voor U neer en aanvaar U as enigste Koning. U koninkryk bestaan reeds van voor die aarde begin het. U regeer met liefde en trou, in reg en geregtigheid. Al lyk dit soms of die Satan die wêreld beheer, behoort die uiteindelike triomf aan U en sien ek met reikhalsende verlange daarna uit.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pierrè Prinsloo ·

Ek buig vir onse Vader. Amen. dankie vir die plasings van boodskappe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.