Gedagte vir die dag: Laat u Naam geheilig word

Hemelvaart_Opstanding_Stiltetyd.jpg

Foto: christianheadlines.com

Daarna sê Moses vir God: ‘Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: “Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,” en hulle vra vir my: “Wat is sy Naam?” wat moet ek dan vir hulle sê?’ Toe sê God vir Moses: ‘Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: “Ek is” het my na julle toe gestuur.’ (Eksodus 3:13–14)

Vir ’n vrome Jood is die Naam van God so heilig dat hy dit nie eens uitspreek nie. Wanneer hy sy Bybel lees en by die Godsnaam ‘Jahweh’ uitkom, lees hy ‘Elohim’. In ons vertaling lui dit ‘Here’. Soms wanneer hulle die Naam skryf, skryf hulle slegs die eerste letter – dit alles uit heilige eerbied.

Die Naam verteenwoordig immers vir God self.

Wanneer ons die Here aanroep, verskyn Hy in die Gees voor ons en tree met ons in gesprek. Hy is die God wat Moses uit die brandende braambos aangespreek het. Hy is ‘Ek is’ voor wie Moses sy skoene moes uittrek omdat hy op heilige grond gestaan het.

Jy ken Hom as Hemelheer en Vader. Jy buig jou hoof en sluit jou oë. Jy staan voor Hom in die gloed van sy liefde. Sy Naam is heilig.

Ongelukkig is God se Naam vir baie mense onbekend. Vir hulle is en bly dit die punt waar alle raaisels doodloop – die groot X-faktor. Ander glo aan soveel gode dat hulle selfs ’n altaar gebou het vir die ‘onbekende god’ (lees Handelinge 17:23). Wanneer hulle sy´ naam aanroep, beteken dit net mooi niks.

Ons moet God ken voor ons sy Naam kan heilig.

Heilige God en Hemelvader, ek roep U aan in Jesus Naam, ek eer en eerbiedig U as Skeppergod en Koning van die heelal. U sorg vir alles klein en groot, U ken ons almal by die naam, ook vir my.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Danie ·

Ek is….. Die boodskap maal in my kop nog voor ek dit gelees het, Pragtig dankie!!!!

Theuns ·

Here, dankie vir alles wat ons uit U hand ontvang. Dankie vir my Christelike boeties en sussies hier op Maroela Media. Ons prys U Heilige Naam! Amen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.