Gedagte vir die dag: Laat u wil geskied

Biddende_hande_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

So sê die Here vir Israel: Vra na my wil, dan sal julle lewe! (Amos 5:4)

Amos, die veeboer, wat sekerlik dikwels na die wolke opgekyk en na die wil van God gevra het, word uit Juda geroep om teen Israel te profe­teer. God is nie tevrede met hul skynheilige godsdiensbeoefening nie, ook nie met die welvarende bestaan van die rykes ten koste van die armes nie. God se volk het vergeet dat elke aspek van die lewe ondergeskik gestel moet word aan hul godsdiens en dat die God wat hulle aanbid, van hulle verwag om sy wil te doen.

Maar wat is God se wil? Aan die een kant is sy wil ’n misterie wat selfs die engele nie kan ontrafel nie. Aan die ander kant is die hele Bybel soos ’n brief uit die hemel waarin God sy wil aan ons openbaar.

‘Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God’ (Miga 6:8).

Klink dit nie na dieselfde boodskap wat Amos aan die Israeliete moes bring nie, dieselfde boodskap wat ons ook moet hoor nie?

Here, vergewe my dat ek u wil tot my eie voordeel soek, dat my gebede voorskriftelik raak in plaas van soekend. Dwing my tot insig, toets my begeertes, dring deur tot die kern van my drome. Help my om eerlik te wees en myself af te vra: Wat wil ek werklik in die lewe hê?

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theuns ·

Here ons is Rentmeesters van U wil. Help ons om U wil te doen. Ons prys en loof U! Amen!

Marius Greyling ·

Baie dankie vir die stiltetyd gedagtes. Dit is werklik inspirerend. Vandag soos elke dag wil ek maar net graag treetjie vir treetjie saam met Hom stap. Genadiglik weet ek die Here dra my want dit is nie altyd maklik nie. Die versoekings is groot.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.