Gedagte vir die dag: Laat woede bedaar

See-strand-gras-Nathan-Steyn.jpg

Foto: Nathan Steyn

’n Sagte antwoord laat woede bedaar; ’n krenkende woord laat woede ontvlam. (Spr 15:1)

As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie. (Ef 4:26-27)

Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie. (Kol 3:8)

Om kwaad te word klink darem nie so erg as om woedend te wees nie. Maar eintlik is kwaadword maar net die aansteek van die lont wat kort voor lank die bom van woede laat ontplof. Woede is ’n emosionele reaksie op enige gebeure wat jou ego aantas. Dit kan ’n kwetsende aanmerking wees, ’n vals beskuldiging, onregverdige behandeling of bespotting. Die feit is net dat dit jou humeur laat opvlam. En as jy dalk so effe kort van draad is, spat die vonke behoorlik.

Natuurlik is sulke woede-uitbarstings nie in ooreenstemming met jou Christelike getuienis nie. Selfbeheersing en sagmoedigheid is nie maatjies met woede nie. En ja, ’n mens raak soms spon taan kwaad as sekere dinge met jou gebeur. Maar dan moet jy sommer dadelik met daardie kwaadword-emosie iets doen. Die Spreukeskrywer sê jy moet die harde woorde met ’n sagte antwoord sag maak. Dit laat die woede bedaar – van jou en die ander persoon. Paulus sê jy moenie kwaadword in sonde laat ontaard nie. Daar mag dalk rede wees vir kwaadword, maar keer dit voordat dit in allerlei aaklige wraakgedagtes uitdrukking vind. Dan gee jy die duiwel vatkans. Moenie toelaat dat jou kwaadword ontaard in ’n woedebui wat ’n onkeerbare vloed word nie.

’n Sagte antwoord laat woede bedaar.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.