Gedagte vir die dag: Lankal besluit

woestyn_wind_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Maar het jy nie gehoor nie? Ek het lankal daaroor besluit. Lank gelede het Ek dit beplan. Nou maak Ek dit werklikheid … Dié wat in Juda oorgebly het, sal weer wortelskiet en vrugte dra. (2 Konings 19:25, 30)

Die impak van slegte nuus oor ons gesondheid, geldsake of veiligheid kan ons in ’n donker put laat afsak en ons met ’n wolk van depressie omring. Vrees is verlammend. Die dag toe koning Hiskia die nuus ontvang het dat die Assiriërs Juda sou aanval, het hy sy klere geskeur, op sy knieë neergeval en na die Here geroep: “Dit is ’n dag van benoudheid, teregwysing en skande” (2 Kon. 19:3). Dalk voel jy ook soms lus om dit uit te roep, en jy wonder of God ’n plan met alles het.

Dit is hoekom ek so baie van hierdie belofte hou: God sê Hy het alles baie lank gelede reeds beplan. Van hierdie kant van die ewigheid af lyk dit soms of die lewe net uit wanorde en onrus bestaan. Maar God het ’n plan en Hy is besig om sy plan te laat uitwerk. Wat beplan God? Dat sy mense sal wortelskiet, groei en vrug dra. Op ’n ander plek lees ons dat ons ons moet wortel in die liefde van die Here (Ef. 3:17). As ons dit doen, sal ons altyd op die regte tyd vrug dra (Ps. 1:3).

Die dinge wat nou met jou gebeur, of dit nou vir jou blydskap of hartseer bring, is alles deel van ’n meesterplan om jou te help om in jou geloof te groei en vrug te dra in jou bediening. Jy kan rus in God se sorg en die reis geniet omdat Hy ’n plan het. En anders as met ons, is daar geen onverwagte gebeure wat God se plan van koers af kan stuur nie.

Gelukkig is dié mense wat op die Here vertrou en hulle verwagting in Hom stel. Hulle is soos bome wat langs ’n rivier staan. Hulle wortels reik diep tot by die water. Hitte bedreig hulle nie, en hulle blare bly groen. Lang maande van droogte pla hulle ook nie. Hulle hou nie op om vrugte te dra nie. – Jeremia 17:7-8

Bron: In die skadu van die Allerhoogste deur Nancy Taylor & Chris Johnsen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.