Gedagte vir die dag: Lê dit op die altaar

Karoo_kerk_stiltetyd_pixabay.jpg

(Argieffoto: pixabay)

Jesus antwoord hom: As jy volmaak wil wees,  gaan verkoop jou  goed en  gee dit aan die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My. Maar toe die jongman dié woord hoor, het hy bedroef weggegaan; want hy het baie besittings gehad.  (Matteus 19:21-22)

Ons pad was nooit bedoel om met rose besaai te wees nie. Jesus sê dat geen dienskneg groter as sy meester is nie. As Jesus Christus vir ons moes ly en sterf, hoe kan ons dan enigiets beters verwag? Jy sien, dit is deur gee wat ons ontvang. Daar bestaan ’n wanpersepsie oor Christelike welvaart. Die dinge wat die moeite werd is in die lewe, kan nie gekoop word nie  –  liefde, vrede, tevredenheid, gesondheid, geloof, hoop en redding. Geld kan dit nie koop nie; dit is gawes van God.

My God, wat ek so liefhet, is ’n vrygewige God. “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê”  (Johannes 3:16). Hy verwag  slegs  dat  jy  Hom  jou lewe sal gee.  Hoekom?  Hy  wil  dit  vir  jou  teruggee. Dit is wat die ryk jongman nie verstaan het nie. Hy het gedink Jesus wou sy geld wegneem. Nee, Jesus het nie sy geld nodig gehad nie. Jesus besit al die geld in die wêreld. Jesus wou weet dat niks vir die jongman meer belangrik is as om Hom te dien nie.

Jy kan nooit meer gee as wat God gee nie. As jy, soos die ryk jongman, iets terughou  van  God  –  moenie!  Dalk  is  dit  in  jou  geval  nie  geld  nie,  maar  iets anders  –  iets wat jy nie bereid is om op die altaar neer te lê nie. Moenie dat God dit waaraan jy vasklou van jou af wegneem nie. Plaas dit eerder vrywilliglik op die altaar. Dalk sal Hy dit vir jou teruggee, dalk nie; wat ook al gebeur, sal vir jou ten goede wees, want Hy het jou lief. Terwyl jy by die altaar staan, sê Hy vir jou: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring” (2 Korintiërs 12:9). Wat sê jy vir Hom

My Vader, vandag onderwerp ek my aan U. Ek lê dit wat ek van U weerhou het, op die altaar neer. Ek dank U dat U vandag so duidelik met my gepraat het deur u Woord. Here, ek besef dat ek U kan  vertrou  ten spyte  van  wat gebeur. U  is in  beheer van my  lewe.   Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Agter die skerms ·

My Vader ek vra vir vandag om vir my die pad te wys wat ek moet doen vir Kersfees hierdie jaar – U sit dit altyd op my pad – wys my waar ek mense kan gaan help of net iets doen vir Kersfees. Ek buig voor U neer vir U antwoord my God Amen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.