Gedagte vir die dag:  Leë blikke

brug_see_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Prediker 9:13-18

Die rustige woorde van dié wat wysheid het, word beter gehoor as die geskree van een wat heers oor dwase. (Prediker 9:17)

Ons almal weet dit: Die grootste geraasmakers is leë blikke. Daardie een met die groot mond kan nie ’n behoorlike argument voer nie. Groot lawaai, weinig wol. Meer bek as binnegoed …

Ons almal weet dit, en tog struikel én val ons heel dikwels wan- neer ons hiermee te doen kry. Ons word geïntimideer deur dié met die harde stemme. Ons word oortuig deur ’n swak argument wat luidkeels verkondig word. Kortweg: Ons láát ons stil skree, terwyl ons dit heimlik eens is met hierdie ou wysgeer se sobere stelling oor die rustige woorde van wyse mense.

Hoe het hierdie vuur-en-swael-aanslag dan sy aantreklikheid verwerf? Vanwaar kerkmense se blink oë en eerbiedige stemtoon wanneer hulle na ’n kanselredenaar verwys wat tog so “vurig” preek? Teenoor die een wat jou “aan die slaap” praat?

Ag, en almal is bekend met staatsmanne deur die eeue wat skreeuend kon vinger wys en vuis bal en meevoer en opsweep. En wanneer jy later oor alles nadink, dan wonder jy: Wat het hy nou éintlik gesê?

Ons weet dit, ons weet dit alles, en ons stem steeds saam met die Prediker dat wysheid dikwels verborge lê. Onderbenut en onder- waardeer, straks heel misgekyk, omdat dit nie noodwendig knallend afgevuur word nie. Omdat werklike wysheid, dit wat die toets van integriteit slaag, tussen die gedruis van gewildheid deur nie goed genoeg gehoor word nie.

Gelowiges wat hul onderskeidingsvermoë verder wil ontwikkel, sal dalk allereers moet leer om fyn te luister na wat saggies gesê word. Hul ore te spits vir daardie predikers wat eerder prewel as raas, wat beter sug as sing.

Here, bo alles wil ek u stem hoor. Wat sê Ú vir my?

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.