Gedagte vir die dag: Leef deur geloof

aanbid_stiltetyd_pixabay.jpg

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Wat sal ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek as ek van die profete sou verhaal, wat deur die geloof koninkryke oorweldig het, geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry, bekke van leeus toegestop, die krag van vuur uitgeblus, die skerpte van die swaard ontvlug, krag uit swakheid ontvang het, dapper gewees het in die oorlog, leërs van vreemdes op die vlug gedryf het. (Hebreërs 11:32-34)

Hoe vaar jy wanneer dit kom by geloof in God? Jy sê dalk vir my: “Angus, ek glo in God, in Jesus Christus, sy Seun, en die Heilige Gees.” Dit is goed so, en ek is bly daaroor. Maar wat ek werklik vandag vir jou vra, is of jy geloof het. Ek hoop dat jy ook bemoedig is deur Elia. Sy geloof bemoedig my, maar ek word ook bemoedig deur sy menslikheid.

Dit is wonderlik dat God vir ons grepies van menslikheid in ons Bybelse helde wys. Selfs al het Elia heldhaftige dade vir God verrig, was daar steeds oomblikke van swakheid en mislukking. Die ander wonderlike ding wat vir my seën bring, is dat God hom nie verlaat het in sy swakheid nie. Nee, God was daar om hom terug te bring, en in ooreenstemming met sy wil. Waar staan jy vandag? As jy moeg en swaar belaai is, skep moed. God is steeds op sy troon. Hy is nêrens heen nie. Hy hou wag oor jou en is lief vir jou in al jou moeilikhede.

As jou probleme tans vir jou onoorkomelik lyk, skep moed; jy dien ’n God by wie niks onmoontlik is nie. Spandeer tyd in sy Woord. Dit is vol voorbeelde waar God die menslik onmoontlike gedoen het. Soek sy aangesig en gehoorsaam Hom wanneer Hy met jou praat. So dikwels is die probleem dat ons wil hê God moet sê wat ons graag wil hoor. Ons wil Hom nie onvoorwaardelik gehoorsaam nie. Ons wil gedeeltelik beheer oor ons lewens en omstandighede behou. Maar dit werk nie so nie! Óf jy gehoorsaam God, óf nie! As jy Hom nie wil gehoorsaam nie, kan Hy jou nie help nie. Syne is die stil, sagte stem wat na jou roep.

My Vader, ek buig in u teenwoordigheid. U het vandag direk met my gepraat. Ek lê my sorge aan die voet van die kruis neer en, Here, ek kies om hulle nie weer op te tel nie. Ek luister na U, Here, en ek is gereed om U te gehoorsaam. Ek vertrou op U en U alleen. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.