Gedagte vir die dag: Leef die liefde!

Argieffoto (Foto: Karolina Grabowska, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Karolina Grabowska, Pixabay)

Lees: 2 Johannes vers 5-6

Ons moet mekaar liefhê. En liefde beteken dat ons volgens die gebooie van God lewe. Soos julle van die begin af gehoor het, is dit sy gebod dat julle in die liefde moet lewe. (2 Johannes vers 5-6)

Johannes word soms die dissipel van die liefde genoem. Al sy briewe verkondig God se gebod dat ons mekaar moet liefhê. Dit is ook Johannes wat Johannes 3:16 en 1 Johannes 3:16 neergepen het. Johannes 3:16 vertel ons van die omvang van God se liefde vir mense – Hy het ons lief genoeg gehad om sy eie Seun in ons plek te laat sterf sodat ons vir altyd kan leef mits ons in Jesus glo. 1 Johannes 3:16 omskryf weer presies wát God se liefde behels en wat ons antwoord daarop behoort te wees: “Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê.”

Die ware liefde waarvan Johannes hier praat, is op Jesus se liefde vir óns geskoei. Die toets of daar wel ware liefde in jou lewe te bespeur is, lê in jou verhouding met ander mense. God se liefde in jou eie lewe behoort oor te loop na die mense wat oor jou pad kom (en nie net dié van wie jý hou nie!). Jesus se liefdesopdrag laat jou geen keuse nie. Jy móét alle ander mense liefhê op dieselfde manier as wat Hy jou liefhet. En dit gaan jy nooit regkry sonder die krag van sy Gees in jou nie.

Here Jesus, maak dit asseblief vir my moontlik om vanjaar die liefde te leef deur ander mense só lief te probeer hê soos wat U vir my het. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.