Gedagte vir die dag: Leef heilig

riete_rivier_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Doen julle bes om in vrede met almal te lewe en beywer julle om ’n toegewyde lewe te voer, want daarsonder sal julle nie eendag in die Here se teenwoordigheid kan kom nie. (Hebreërs 12:14)    

So dikwels hoor ek van mense wat wonderbaarlik deur die Here Jesus Christus gered is, mense wie se sondes weggewas is en wat vrygemaak is – wat nuwe mense in Christus geword het. Maar soms raak ek bekommerd wanneer ek nie die eerbied en respek sien wat ons heilige God toekom nie. Hy het sy enigste Seun vir ons geoffer toe ons nog sondaars was; ’n ongelooflike groot prys om te betaal as jy goed daaroor nadink.

As jy Levitikus 16 lees, sal jy sien selfs Moses se broer Aäron wat die hoëpriester was, het sy twee seuns verloor omdat hulle ongeoorloofde vuur aan die Here geoffer het, en hulle het gesterf. Die Here het baie duidelik vir Moses gesê: “Waarsku jou broer Aäron om nie sommer wanneer hy wil by die Allerheiligste plek agter die voorhangsel in te gaan nie. Die straf hiervoor is die dood. Die deksel van die ark wat die plek van versoening is, is daar en Ek is daar in ’n wolk bo die deksel van die ark” (Lev. 16:2).

Ek glo werklik al is die Here ’n vriend wat nader aan ons is as ’n broer, is Hy ook God en ons moet aan Hom eerbied en respek betoon. Hy is nie ’n “pêl” of “die Man daarbo” nie. Hy is God Almagtig, die heilige Een, wat sy kosbaarste besitting opgeoffer het sodat ons die ewige lewe kan hê.

Heiligheid kan gedefinieer word as “die eindproduk van gehoorsaamheid”. Ons word outomaties heilige mans en vroue wanneer ons aan die Woord van God gehoorsaam is. Laat ons van dag uitgaan en aan ons Here respek betoon. Wanneer iemand die Here se Naam ydellik gebruik, vra God om vir jou die moed te gee om saggies vir die persoon te sê: “Asseblief, ek sal dit waardeer as jy nie my Verlosser se Naam op hierdie manier gebruik nie.” Moenie net vir God sê jy is lief vir Hom nie. Wýs met jou dade vir Hom hoe lief jy vir Hom is.

Bron: ‘n Mosterdsaad deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Blomme ·

Amen.. God is Wonderbare Raadsman,die Sterke God en Ewige Vader. Die EEN in wie ek glo ❤️

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.