Gedagte vir die dag: Leef lig

Sonsondergang_gesin_strand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. (Romeine 8: 38-39)

Wat is jou vrese? Dalk is jy bang jy word verkrag, of jou man los jou, of een van jou kinders kom iets oor, of jy verloor jou werk of daar word by julle huis ingebreek. Wat ook al jou vrese is, in vandag se teksgedeelte beklemtoon Paulus dat niks, geen vrees of ramp ons ooit van die liefde van die Here kan skei nie.

Paulus maak hier ’n lysie van alle denkbare bedreigings wat ons dalk kan hê, ons kan ons eie vrese daarby voeg. Feit bly staan dat nie een van hierdie sake kan veroorsaak dat God nie sy plan met ons lewe verwesenlik nie. As ons dit regtig besef en waarlik beleef, pak ons die toekoms met optimisme en moed aan want ons weet: wat ook al mag gebeur, in Christus is ons meer as oorwinnaars.

Wat ’n wonderlike voorreg, die Almagtige God is vir ons. Niks en niemand kan ooit permanente sukses teen ’n gelowige behaal nie. As God vir ons werk, wat meer wil ons hê! Die Bybel bevestig dat ons Vader in die hemel vir ons sal sorg, Hy tel elke haar op ons kop en gee vir ons ons daaglikse brood. Daarom kan ons vreesloos en sorgvry leef. Ons hoef nie naarstig oor ons toekoms of veiligheid te bekommer nie, ons kan in Hom rus.

Ek daag jou uit, vernuwe jou gedagtes. Moet oor niks angstig raak nie, vertrou God en leef met optimisme. Navorsing wat oor sowat 30 jaar deur Harvard Universiteit in die VSA gedoen is, het getoon dat optimistiese mense gelukkiger is, langer leef, gesonder is en ’n meer produktiewe lewe lei.

Komaan, gee jou vrese vir die Here en leef lig. Omskep jou bekommernisse in gebede en vertrou God vir uitkoms. Geen vrees of ramp kan jou in elk geval van die liefde van God skei nie.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.