’n Dom mens soek tevergeefs na wysheid. Hy weet nie eens waar om te begin nie. ’n Gelowige weet hoe om gelukkig te leef. Hy weet waar om wysheid te vind. (Spreuke 14:6)
Weet jy wanneer is ons régtig dom? Nie wanneer ons nie goed is met wiskunde, ’n bal mis vang, sukkel met ’n taal of vals sing nie. Ons is dom wanneer ons dink dat ons só slim is dat ons sonder God se wysheid en genade kan leef. Dán, sê die wyse Salomo, is ons behoorlik onnosel!
Miskien het jy in die vorige aflewering so deur die verskillende vorme van intelligensie gelees en gewonder waar jy nou eintlik inpas. En jy kan maar mooi dink, want jy het ten minste één soort intelligensie. Wanneer jy jou vermoëns en talente egter met God se wysheid beoefen, maak dit jou dubbel so sterk as wat jy is. Dán is jy tot soveel meer in staat en dan is jy – ook in sý oë – ’n sukses!
Bid elke dag dat die Here jou sal toevou met Goddelike wysheid. Dan sal jy ’n vervullende lewe lei!
Mag ek vandag vanuit die rykdom van u wysheid leef, heilige Vader.