Gedagte vir die dag: Leef selfbeheers   

man_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Julle moet julle lewe deur die Heilige Gees laat beheer. Laat Hy aan die stuur staan van alles wat julle dink en doen en sê. (Galasiërs 5:16)     

Vir weke verloop ons lewens seepglad. Ons voel in beheer van ons emosies en kry dit reg om in vrede en liefde met ander te leef. En dan, op ’n dag, voel ons eenvoudig net nie goed oor onsself nie, loop dinge onverwags skeef en het ander die vermoë om ons verkeerd op te vryf. Dis dán wanneer ons summier spreekwoordelik “ons speelgoed uit die kot gooi”. Ons verloor ons humeur, sê die verkeerde dinge en tree op maniere op waaroor ons later skaam en spyt is.

Wanneer dit ons opregte begeerte is om in vrede en liefde met ander te leef, is sulke uitbarstings vir ons vernederend en sleg. Ons weet mos ons het dan buite God se wil opgetree en in die proses skade aangerig.

Daar is nie ’n kitsresep vir selfbeheersing nie. Ons bly immers feilbare mense. Tog kan ons met die genade van ons Vader altyd weer die skade regmaak, vergifnis vra en ontvang en wéér probeer om geesvervuld te leef.

Vader, help my om heel te hou wat heel is en reg te maak wanneer ek drooggemaak het.

Bron:
Moed vir elke môre deur Milanie Vosloo 
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Berny ·

Baie, baie dankie vir hierdie woord vanoggend; ek is ook diep skuldig o Heer, en vra weer vanoggend vergifnis vir alles wat ek doen wat ek teen U wil is.
Dankie vir U liefde vir my!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.