Handhaaf ’n voorbeeldige leefstyl onder die nie-Christene, selfs al kla hulle julle aan van wangedrag. Omdat die Here dit so wil hê, moet julle alle gesag aanvaar. (1 Petrus 2:12-13, NLV)
Dit is God se wil dat sy kinders op aarde volgens sy voorskrifte sal leef. En dis inderdaad so dat Christene fyn dopgehou word deur ongelowiges om te sien of hulle wel die dinge doen wat hulle verkondig.
Petrus raai dus sy lesers aan om voorbeeldig te leef, en van sinlike versoekings weg te bly sodat die ongelowiges wat hulle van wangedrag wil aankla, geen voet sal hê om op te staan nie. Hy skryf ook dat hulle aan die regering gehoorsaam moet wees ter wille van goeie orde. Die “gesag” (“owerheid” in die 1983-vertaling) van wie hy hier praat, is juis die mense wat die destydse Christene ter wille van hulle geloof vervolg het.
Ons stem dikwels ook nie saam met die besluite van ons regering nie, maar God vra van ons om die gesag oor ons te gehoorsaam. Met ons optrede behoort ons God te verheerlik sodat mense na ons sal kan kyk en Hom vir ons leefstyl sal kan loof.
Here, help my om so te leef dat mense wat na my kyk vir U in my optrede sal kan raaksien. Amen.