Gedagte vir die dag: Leef tot eer van God

man-kniel-gebed.jpg

Foto: imgarcade.com

Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. (Kol 1:9-10)

Lees Kolossense 1:9-14

Paulus gee hier ’n treffende beskrywing van hoe ’n Christen se lewe van dag tot dag behoort te lyk. Deur die wysheid en insig wat ons net van die Heilige Gees kan kry, moet ons probeer om God se wil te ken, sodat ons in die vervolg tot eer van God sal lewe deur net dié dinge te doen wat sy goedkeuring wegdra.

’n Jong Amerikaanse sendeling Karen Watson het in ’n brief aan haar predikant geskryf wat later by haar begrafnis voor gelees is nadat sy in Irak vermoor is: “Gee meer om as wat mense dink wys is. Waag meer as wat ander mense dink veilig is. Droom meer as wat prakties is, en verwag meer as wat moontlik is.” Wat ter pragtige credo vir die nuwe jaar wat voorlê.

Hoe lyk dit, is jy nie bereid om Karen se credo uit te leef in die jaar wat voor jou lê nie? Bid dan tot God vir sy kennis, wysheid en insig sodat jy tot sy eer kan lewe en sal kan doen wat Hy van jou verwag, en so vorder op die pad van heiligmaking. God onderneem om sy krag vir jou beskikbaar te stel sodat jy in alle omstandighede geduldig kan volhard (Kol. 1:11).

Vader, ek bid dat U deur die wysheid en insig wat u Gees my gee, u wil aan my bekend sal maak, sodat ek in die jaar wat voorlê tot u eer sal leef en u wil sal gehoorsaam. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marie du Bruyn ·

Baie dankie. Dit is opbouend en ‘n uitstekende manier om stil te raak en jouself in te stel op God en Sy Woord. ‘n Positiewe manier om jou dag te begin!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.