Gedagte vir die dag: Leef voluit vir God

seun_son_han…_hartjie.JPG

Foto: Reint Dykema

Lees: Matteus 6:24-33

Stel God se koninkryk eerste. Doen net daardie dinge wat vir Hom belangrik is. Hy sal vir die res sorg. Hy sal elke dag vir julle genoeg kos en klere gee. En los môre se probleme vir die dag van môre. Van probleme het elke dag immers oorgenoeg. Leef vandag voluit vir God! (Matteus 6:33, Die Boodskap)

Ons is steeds besig met dieselfde Skrifgedeelte waaroor ons gister gesels het. Almal van ons is soekers. En die meeste mense kry nooit wat hulle soek nie. As dit van jou ook waar is, gaan jy vandag die geheim leer hoe om jou probleme te benader.

Indien jy bereid is om God se koninkryk eerste te stel, net dié dinge te doen wat Hy in sy Woord vra, die dinge wat vir Hóm belangrik is, onderneem Hy om vir die res te sorg, om vir jou alles te gee wat jy nodig kan kry: kos en klere, geld en goed; lewensmiddele. Boonop gaan al daardie dinge wat jou elke dag laat stres en jou doktersrekeninge laat ophoop, iets van die verlede wees.

Miskien klink dit te maklik. Dit beteken nie dat daar nooit weer probleme in jou lewe sal wees nie, ook nie dat jy in die vervolg nooit weer negatiewe dinge soos siekte, swaarkry en lyding hoef te verduur nie. Maar indien hierdie dinge kom (en hulle sal!), weet jy na Wie toe om hulle te neem. Jesus het immers self gesê dat ons swaarkry in die wêreld sal beleef, maar Hy voeg hierby dat Hy reeds die wêreld oorwin het (Joh. 16:33). Met Hom by jou, sal jy in die jaar wat kom meer as ’n oorwinnaar kan wees.

Here Jesus, ek neem U nou op u woord: Ek wil vanjaar voluit vir U leef, en U toelaat om vir die res te sorg. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jenny Thom ·

Whoa, die waarste woorde wat ek nog 2016 gehoor het. Dit is so maklik soos dit. Maak Hom jou lewe, bemin Hom met jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand en al jou kragte. Dan doen jy presies dieselfde as Hy, want Hy het jou eerste liefgehad.
Hy is ‘n jaloerse YaHWeH/God en Hy wil jou besit van jou kop tot by toontjies.
Vertrou jou lewe, jouself aan Hom toe, jou Maker, jou Koning, jou Leidsman en jou Verlosser. Ken Hom in al jou wee, en Hy sal jou paaie gelyk maak.
Wees stil en weet dat Hy totaal en al in beheer is.
Verlustig jou in Hom en Hy sal jou paaie gelyk maak.
Hy het jou in elkgeval geskape vir Homself tot Sy Eer en Heerlikheid.
Ai, Dierbares dit is so wonderlik om Hom onvoorwaardelik te bemin en jou self onvoorwaardelik aan Hom te gee Wie in elkgeval totaal en al in beheer is van jou lewe.
Geseende 2016 met Hom in beheer van jou lewe

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.