Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is. (Psalm 19:8)
Die manier waarop ons God se woord leer ken, kan heel verskillend wees. In die Ou Testament het die priesters by die tempel onderrig in die woord gegee. Hierdie onderrig (onderwysing) is deur die ouers op tuisfront na die kinders oorgedra (Spreuke). Wat een ding baie duidelik maak: ’n Mens moet in die woord onderrig word. Dit is nie vanselfsprekend nie. Dit moet ingeprent word, deel van jou vaste verwysingsraamwerk gemaak word. Dit is ook nie so maklik soos om ’n rekenaarskyfie iewers in te prop en siedaar, jy het dit nie. Die leerproses is langsaam en selfs vermoeiend. Trouens, jy bly leerling tot die dag van jou dood.
“Die onderwysing van die Here is betroubaar, dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.” Ons moet seker maak of ons omgang met God se woord al daartoe gelei het dat ons wysheid bekom het. Wysheid word in die Bybel gereken as een van die grootste skatte denkbaar. Wysheid bestaan in die vermoë om te kan onderskei tussen goed en kwaad, reg en verkeerd, die wil van God en die verleiding van die Bose. Wysheid is die kompas wat ons op die regte koers hou. En dié wysheid word verkry deur jou aan die onderwysing van God se woord te onderwerp.
Luister na die woord. Soos ’n leerling. Sodat jy wysheid kan bekom en die lewe met vertroue kan aandurf. Want jy weet mos: God se woord, sy onderwysing, is betroubaar.