Met jou woorde kan jy baie goeie dinge kry. Die werk van hulle hande gee hulle ook baie voorregte. (Spreuke 12:14)
Luister is ’n verlore kuns. Daar’s baie oop monde in ons wêreld, maar nie ewe veel oop ore nie. Te veel mense praat sonder om te luister. Hulle ken net een weergawe van die waarheid – hulle eie. Óf jy stem saam met hulle, óf hulle hoor jou nie. Jesus het dikwels gesê dat dié wat ore het om te hoor, dit moet gebruik. Met ander woorde: Luister! Luister na God; luister na ander. Dis nie verniet dat die Here aan ons twee ore en een mond gegee het nie. Ons moet dit in daardie volgorde gebruik. Ons moet twee keer soveel luister as praat. Dan sal ons ook weet om nie met daardie mense wat slegs hulle eie weergawe van die waarheid aanhang, te stry nie. Stilbly in hulle teenwoordigheid is die beste antwoord. Luister en stilbly verg selfdissipline, maar dit is die pad van die Here vir elkeen wat met oop ore leef. Dan eers kan ons begin reg praat.
In my kinderjare het my ma gedreig sy gaan my mond met seep uitwas as ek lelik praat. Maar sy het my nooit verbied om hopelose terme en vreesbelaaide uitdrukkings op my lippe te laai nie. Ook het sy my nie gekeer om negatief te praat nie. Was dit dalk omdat soveel kerkmense in ons omgewing uitgeblink het in negatiewe praatjies en oordeelstaal? In die kerk was woorde soos “moenie”, “mag nie”, “skuldig”, “sondaar”, “oortree”, en “ongehoorsaam” populêr. Sulke koolsuurgastaal moet in geruil word vir taal wat hemelse suurstof is. Wyse woorde is soos saad wat gesaai word. Mettertyd dra dit baie vrug in ander se lewe. Woorde verander lewens. Daarom moet ons ons woorde met wysheid kies. Ons moet God toelaat om ons taal in geneesmiddels te verander.