Gedagte vir die dag: Leerbaarheid

hand-uithou_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Julle weet dat mense wat baie van hulleself dink, terwyl hulle niks is nie, hulleself bedrieg. (Galasiërs 6:3)

Wat my opval tydens my reis deur die lewe, is hoe opgepof en alwetend mense soms kan wees. Hulle weet alles oor braaivleis, politiek, rugby, musiek, maar veral oor geloofskwessies. Hierdie alwetendheid veroorsaak hewige konflik, rusie en skeuring in gemeenskappe, kerke en tussen medegelowiges.

Soms verskeur alwetende mense mekaar soos ’n trop wildehonde, sommer oor beuselagtighede. En elkeen wat “alwetend” is, glo hy of sy is reg en verdedig sy of haar siening met skuim om die mond.

Meestal vind hierdie gesprekke totaal sonder die Here se liefde en sagmoedigheid plaas, met slegs ’n koppige en ekkerige karperd voor elke wa.

’n Alwetende gesindheid kan gevaarlik en selfs misleidend wees. Sulke mense kan maklik die pot van genade mis sit. Ek sien gereeld hoe alwetende mense twis oor God se Woord en dit aanhaal asof hulle geestelike tennis teen mekaar speel. Hierdie mededingende geestelike aanslag kan vermink en verwond en verskeur. Dit kan lei tot geestelike hoogmoed, veroordeling, hartsverset – die teenoorgestelde van Jesus se voorbeeld van liefde en genade.

Ek neem nie deel aan die kampioenskap van die alwetendes nie. Ek glo net God is alwetend. Hy is die alwetende, allesomvattende en almagtige God. Hy ken ten volle. Die mens, met ons blindekolle en stowwerige lense en gebrekkige insig, ken slegs ten dele.

Op my knieë in nederigheid voor Hom, as ’n feilbare mens, ’n gebreekte skulpie, ’n nederige nie-alwetende leerder, kry ek die bruistablet wat my gees laat sing.

Here, ek lê my alwetendheid neer en kies om leerbaar en ’n ewige student van U, die Leermeester,te bly.

Bron:
Bruistablette vir die lewe deur Susan Coetzer
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Lena Jonk ·

Ja dit is alles so waar, daar is gedurige besprekings oor dinge wat in God se Woord staan. Dis so hartseer dat mense in vandag se lewe hulle lewe net inrig om baie geld te he, ek weet nie of ek dit nie reg verstaan nie maar die Bybel se nerens dat ons sal ryk wees nie, maar genoeg sal he om van te leef.

Susan ·

Ongeag van jou geloof, gaan elke knieg voor Hom buig & belei dat Hy Die Almagtige Vader is. So stry en baklei oor Sy Torah (Woord) gaan niemand by baat nie.

Ek sidder – net die gedagte van Sy Mag…. Omw wonder of ons mense regtig besef wat dit beteken?

SNEL ·

Lena, ja absoluut, so baie mense dink as jy jou hart vir die Here gee, al jou probleme verdwyn. Ek verpes hierdie “prosperity” prekers. Hulle verwar die mense en so verloor party hulle geloof as dinge moeilik of sleg gaan.
Susan, so ver my kennis strek is die Torah net die eerste 5 boeke van die Bybel en nie die hele Bybel nie. Ja, elke knie sal buig. Wat die mense nie besef nie, of jy glo in God of nie, dit vee nie Sy bestaan uit as jy nie in Hom glo nie. Party sê, ek dink ek is n goeie ou/vrou, ek glo buitendien nie in God nie, ek stel nie belang nie. Wel, of hulle nie glo nie, verander nie die werklikheid nie, en dis jammer, maar as hulle uitvind soos die ryk jong man, dan is dit te laat.

Dries ·

Baie dankie Susan , die Here het nou deur jou tot ons gepraat. Dis ongelukkig sowaar, mense vergeet van GOD en maak van hulle kerklikke dogmatiek ‘n afgod en dan probeer hulle mense wat werklik in Jesus glo verketter. net oor hulle van sommige teologiese aspekte verskil. So ‘n wettisistiese siening veroorsaak ontsaglik skade aan die koninkryk van Christus! Sulke gedrag vind plaas bine die 3 suster kerke sowel as by die kerke daarbuite. Dit kan mense laat wegsink in wanhoop, dis sulke tye wat ek mense raad gee, kyk na die Man van Galilea met geloof , hy sal jou nie verwerp nie, al se wie ook wat(dink soos hy Petrus uit die water gelig het, toe hy wanhopig geword het)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.