Gedagte vir die dag: Leerling = Leermeester

IMG_1266.jpg’n Leerling is nie belangriker as sy leermeester nie. Maar die leerling wat hard werk, sal net soos sy leermeester word. (Lukas 6:40)

Toe Jesus vir sy dissipels gesê het dat die Fariseërs soos blindes is wat ’n ander blinde probeer lei, was die dissipels dalk verbaas. Hoe sou húlle dan weet wanneer iemand blind is, dit wil sê geestelik blind? Hulle is net eenvoudige vissermanne wat nie eens skoolgegaan het nie. Volgens die Fariseërs is hulle dom en ongeletterd. Die gaping tussen hulle en die Fariseërs is so ongelooflik groot. As Jesus sê die Fariseërs is blind, wat is húlle dan?

Nee, sê Jesus, hulle hoef nie bekommerd te wees nie. Jesus is in al sy wysheid verhewe bo die Fariseërs wat geestelike insig betref. Hy sal die dissipels van sy koninkryk leer en namate hulle dit begin begryp en by Hom leer, sal hulle in insig toeneem. Hulle sal nooit op dieselfde vlak as Jesus kan kom nie, maar hulle sal soos Hy begin optree en dit wat Hy vir hulle gegee het, sal genoeg wees om hulle oorwinnend deur die gebroke wêreld te help. Die mense vir wie hulle van Jesus sal leer, sal ook besef dat hulle Jesus se volgelinge is, soos daar in Handelinge 4:13 staan: Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se waagmoed sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense. Die raadslede het hulle ook herken as volgelinge van Jesus.

As Jesus jou oë oopgemaak het vir die waarheid, kan ook jý ander mense lei op die regte pad. Jou leermeester, Jesus, vul jou met die regte kennis.

Bron: Jesus se woorde vir elke dag deur Jan de Wet
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.