Lesse van Job – Deel 1: Elifas

“As ek jý was, sou ek my tot God wend en my saak aan Hom voorlê.” Job 5:8

“Dit gaan goed met die mens wat deur God tereggewys word. Jy moet nie die bestraffing van die Almagtige verontagsaam nie.” Job 5:17

Verlies bring jou nader aan sommige mense, maar soms bou dit mure tussen mense. In die boek Job ontmoet ons ‘n man wat eers ‘n ryk en gerespekteerde man in die samelewing was, maar nou het hy alles verloor – sy rykdom, sy eiendom, sy vrou, sy kinders en sy gesondheid. Drie van sy vriende, Elifas, Bildad en Sofar, kom besoek hom, en hulle probeer vasstel hoekom hierdie ramp Job getref het.

Die volgende drie dae gaan ons hierdie drie manne ‘n bietjie van nader bekyk en veral hoe hulle op Job in sy tyd van nood gereageer het. Ons begin met Elifas.

Dink ‘n bietjie. Elifas het hom in moeilike omstandighede bevind. Hy was die eerste een om met ‘n vriend te praat wie se wêreld inmekaar getuimel het en wat fisies en geestelik swaar gekry het. Wat sê ‘n mens? Sê jy jy is jammer? Dit mag dalk baie alledaags klink. Moet ‘n mens sommer met die deur in die huis val? Dit mag dalk baie onsensitief wees. Elifas doen sy beste; hy praat op ‘n vriendelike manier met Job.

Hy gaan voort om aan Job te verduidelik dat hy, Elifas, al gesien en ervaar het dat mense wat sondig, swaar kry. Aangesien Job ly, moet dit as gevolg van sy sonde wees en word hy nou gedissiplineer. Elifas was van mening dat Job hom tot God moet wend en Hom nie moet verontagsaam nie en dan sou hy weer vooruitstrewend word. Alhoewel hy geen idee gehad het hoekom Job so swaar kry nie of wat God se bedoeling daarmee was nie, was Elifas oortuig dat hy die oplossing vir sy vriend se probleme gehad het. (Het jy dit nie ook al beleef nie?)

Baie van wat Elifas gesê het, was wel waar. God straf die sondaar, maar wat met Job aan die gebeur was, was dieper, iets heeltemal bo die begrip van Elifas.

Hoe reageer jy wanneer ‘n vriend verlies in sy lewe ervaar? Gaan jy van die veronderstelling uit dat op grond van jou eie ervarings jy al die antwoorde het?

Gebed: Vader, dit is so moeilik om te weet wat om te sê vir ‘n vriend wat seerkry .Skenk my die wysheid om hom of haar te bemoedig en nie sommer net veronderstellings te maak wat ons uit mekaar kan dryf nie. Amen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.