Lesse van Job – Deel 2: Bildad

“Maar kyk nou na my geval, ek sal tog nie in julle gesig vir julle lieg nie. Besin julle, moenie dat daar onreg geskied nie, besin julle, my saak is reg. Het ek onreg gepleeg met wat ek gesê het, weet ek nie wat ‘n ramp is nie?” Job 6:28-30

Toe sê Bildad die Suagiet: “Hoe lank gaan jy nog so praat? Jou woorde kom soos ‘n orkaan. Sal God die reg verdraai, sal die Almagtige verdraai wat reg is? Job 8:1-3

Na Elifas probeer het om Job te kry om sy sondes te bely, word Job baie kwaad. Sy vriende het steeds geglo dat hy as gevolg van sy sonde so swaar kry en hy vra hulle om ter wille van sy integriteit hulle standpunt te heroorweeg. Bildad tree tot die gesprek toe en is geensins so beskeie en versigtig soos Elifas nie.

Job se uitbarsting ontstig Bildad. Hy beskryf Job se woorde as ‘n orkaan (8:2). Hiermee bedoel hy dat hy Job se woorde baie negatief ervaar. Hy kan nie glo dat Job so teen God uitvaar nie want, sê Bildad: “Sal God die reg verdraai, sal die Almagtige verdraai wat reg is?” (8:3) Dit is asof Bildad vol vertroue hom die rol van God se amptelike woordvoerder of perssekretaris toe-eien. ‘n Aanval teen God moet afgeweer word. So dit is Bildad se dilemma. Hy moet Job se woordvloed stop, maar hy wil darem ook vir Job ‘n bietjie hoop gee.

Bildad het ook sekere aannames oor beide sy vriend en oor wat God in sy (Job) lewe doen, gemaak. Hy kan nie en wil nie glo dat Job onskuldig is nie. Hy beroep hom op die bevindings en insigte van die voorgeslagte (Job 8:8-10), en haal ‘n klomp van hulle wyshede vir Job aan. Elifas het aannames gemaak wat op sy eie ondervindings gebaseer is, terwyl Bildad sy aannames op die geskiedenis baseer en op wie hy din God is. Beide was verkeerd.

Gebed: Here, vergewe my die kere wat ek arrogant genoeg is om te dink ek weet wat U in my vriende se lewens doen, en dan vir hulle raad gee wat meer kwaad as goed doen. Amen

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.