Lesse van Job – Deel 3: Sofar

Jy sê vir God: ‘Wat ek dink, is reg, ek is onskuldig voor U.’ As God maar wou begin praat en jou wou weerspreek, Job 11:4-5

God ken skynheilige mense, Hy sien die sonde raak, sonder nader ondersoek.
Job 11:11

Waar Elifas Job versigtig en met geduld benader het en Bildad ietwat ontstig was, was Sofar, die derde vriend om met Job te praat, woedend en selfs wreed.

Waar Elifas Job nie onder die goddeloses tel nie, en Bildad onseker is van Job se geestelike oortuigings, is Sofar heeltemal oortuig dat Job geestelik geheel en al verkeerd is. Waar Job se argumente Bildad aanstoot gegee het, kry ‘n mens die gevoel dat dit Job self is wat Sofar aanstoot gee. Dit is die beste verduideliking vir die onverwagte harde woorde wat Sofar sy vriend toevoeg. Sover dit Sofar aangaan laat God Job lig daarvan afkom. Dit is net genade dat iets erger nie gebeur het nie.

Elifas was vriendelik, maar verkeerd want hy het net op sy eie ervaring staat gemaak. Bildad weer was baie vinnig om vir Job te sê dat hy verkeerd was oor God se karakter en Sofar het reguit vir Job gesê dat hy sondig en ‘n idioot is. Job se vriende was van mening dat hulle weet hoekom die rampe Job tref. Hulle het geweier om te glo dat Job onskuldig was en het hardkoppig aangegaan om vir hom slegte raad te gee. Toe hy nie na hulle wou luister nie, het hulle vertrek.

Hoeveel keer het jy al ‘n vriend kwaai aangespreek omdat jy van mening was dat hy iets oor homself gebring het? Hoe kan ons dit vermy?

Dit is die kere wat ons nie net moet kyk wat die Bybel sê nie, maar ons moet God se waarhede in liefde en met begrip oordra sodat dit vir die ander persoon opbouend en tot stigting sal wees (Filippense 1:9-11; 1 Timoteus 1:5). Job se vriende was van mening dat hy die een was wat tereggewys moes word, maar eintlik was dit hulle wat hulle benadering moes verander.

Gebed: Here, gee my die wysheid om u waarhede met liefde en begrip aan ‘n vriend wat swaar kry oor te dra. Ek dank U vir godvresende vriende wat my in moeilike tye ondersteun. Amen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.