Gedagte vir die dag: ’n Leuen kan ’n lewe verwoes

donker_pad_bos_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

’n Vals getuie bly nie ongestraf nie; wie leuens kwytraak, kom nie vry nie. ʼn Vals getuie bly nie ongestraf nie; wie leuens kwytraak, gaan tot niet. ’n Vals getuie gaan sy dood tegemoet. ’n Betroubare getuie se getuienis het betekenis. (Spreuke 19:5, 9; 21:28)

Daar word vertel van ’n seun wat uit woede ’n verskriklike leuen oor sy vriend versprei het. Vinnig het die vals storie die hele dorp vol gelê en niemand wou toe langer iets te doen gehad het met die seun van wie die storie vertel is. Die leuen het sy lewe vernietig en hy het begin vereensaam. Toe die seun wat die storie gefabriseer het, sien watter vernietigende effek dit op sy vriend se lewe gehad het, was hy spyt oor sy optrede. Hy het na ’n wyse man op die dorp gegaan om te hoor hoe hy dinge kon regmaak. Dié het vir hom gesê hy moet ’n veertjie voor elke huis in die dorp gaan neersit – die taak het die jongeling weke geneem om uit te voer.

Nadat hy sy taak voltooi het, het hy teruggekeer na die wyse man om te hoor of alles nou weer is soos voor hy die vals storie versprei het. Die wyse het egter vir hom nog ’n taak gegee en dit was om elke veer wat hy voor elke huis geplaas het te gaan optel. “Dit is ’n onmoontlike taak!” het die seun verbysterd uitgeroep, “al die vere is teen die tyd deur die wind opgeskep en weggewaai.” Toe sê die wyse man: “Net soos jy nooit weer al die vere wat jy voor die huise gaan sit het, kan terugkry nie, kan jy ook nie jou woorde terugtrek nie. Dit het reeds vernietiging gesaai, die skade is gedoen.” Die seun het hartseer omgedraai en weggestap.

Hierdie verhaal spreek ’n groot waarheid aan en dit is dat leuens lewens kan vernietig. Spreuke sê onomwonde vir ons dat God alle vorme van oneerlikheid verag. Dit is nie net Hy wat dit haat nie – ons oneerlikheid het ook op aarde negatiewe gevolge. Nie net kan ’n leuen iemand anders se ondergang beteken nie, maar sou dit aan die lig kom dat jy gejok het verloor mense hulle vertroue in jou.

Soms bring oneerlikheid vir ons oënskynlike wins, soos geld in die sak. As ons God egter ken en liefhet, sal ons besef dat eerlikheid belangriker as geld is. Kan ander uit jou dade sien dat integriteit vir jou belangrik is?

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

SNEL ·

Dieselfde storietjie het ek al gehoor toe hulle die gevolge van n skinderstorie wou uitbeeld. Dit is nogal n goeie voorbeeld van hoe verkeerde gebruik van jou tong verwoesting kan saai.

johanna ·

AGV leuens is my lewe verwoes en dit gaan nog steeds aan die leuens dan sit sy in die voorste
banke in die kerk……ek plan

Rachelle ·

Los dit in God se hande Johanna, “Aan My kom die wraak toe. Ek sal vergeld, spreek die Here.” Rom. 12:19

Rita ·

Ek is nie kwaad vir mense wat loop en leuens vertel en skinder en kwaadpraat nie. Ek is hartseer oor hulle. Openbaring 21:8 vertel ons wat hulle voorland is as hulle nie tot bekering kom nie. Bid vir hulle! Dis ‘n verskriklike lot.

AK ·

Johanna ek glo God sal ons name in ere herstel. Kan nou nie gepaste versie kry nie. Let go let God.

Psalm 101:5 ·

Wie sy naaste beskinder, wil ek uitwis. Hoogmoed en vermetelheid verdra ek nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.