Gedagte vir die dag: Lewe in die Gees

Woud_groen_water_stroom_boekevat_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die een wat in My glo – soos die Skrif sê: “Riviere lewende water sal uit sy binneste vloei.” Dit het Jesus gesê oor die Gees wat die mense wat in Hom glo, sou ontvang. Want die Gees was nog nie daar nie omdat Jesus nog nie verheerlik was nie. (Johannes 7:38-39)

Ons kan nie begin om te meet hoe breed en lank en hoe hoog en diep God se liefde is nie. (Efesiërs 3:18) Ons het sy groot verlossing ontvang. Sy volmaakte Woord. Sy gebede vir ons op hierdie oomblik waar Hy sit aan die Vader se regterhand. Sy beloftes vir ’n toekoms saam met Hom – vir ewig. Die geskenk van sy Gees om ons by te staan totdat Hy weer kom.

Die Heilige Gees is julle leermeester wat julle in die waarheid van die Woord lei. Hy bid vir julle wanneer julle nie die regte woorde het nie. Hy gee vir julle die krag om sonde en duisternis te oorwin. Hy gee vir julle wysheid en begrip om te weet wat reg is. Hy bind julle harte saam. Hy help dat julle lewens geestelike vrug sal dra: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Hy is God se seël van eienaarskap, wat julle vir ewig as sy eie toe-eien.

Loof en prys God vandag vir die Gees. Vra vir Hom om julle met sy liefde, krag en heiligheid te vul. Ervaar sy vrede in die wete dat Hy tot aan die einde by julle is.

Here, help ons om in pas met die Heilige Gees te bly sodat ons U elke dag al beter kan leer ken en liefhê. Amen.

Bron:
Mnr & Mev – 366 oordenkings vir egpare deur Rob & Joanna Teigen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.