Gedagte vir die dag: Lewe vir altyd

Blomme_Berg_Reint_Dykema_20.jpg

Foto: Reint Dykema

Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.” (Joh 11:25-26)

Nie een van ons praat graag oor die dood nie. Behalwe dat sulke praatjies ons aptyt vir die lewe bederf, is die dood steeds vir ons ’n groot stuk onbekendheid. Ons het nie raad met die dood nie. Wat ons wel verseker weet, is dat dit vir almal wag. Niemand van ons kan die dood vryspring nie. Die dood is juis vir ons die onweerlegbare bewys dat die sondeval ’n werklikheid was. Ons dra die kiem daarvan van ons geboorte af in ons rond.

Die dood wag ook vir Christene. Die Bybel sê dat ons lewe maar ’n paar handbreedtes lank is, dat ons net so verganklik soos veldblomme is.

Maar Jesus belowe vir Marta dat elkeen wat in Hom glo, sal lewe, al sterwe hy ook. Omdat Jesus gesterf en uit die dood opgestaan het, maak Hy die ewige lewe vir ons moontlik. Ons kan dit nie begryp nie, maar ons kan dit vas glo omdat Jesus dit vir ons aan die kruis ’n werklikheid gemaak het.

Jy hoef dus nie net vir hierdie lewe op Hom te hoop nie: jy kan wéét dat die hemel vir jou wag. Met Paasfees groet die ortodokse Grieke mekaar met: “Jesus het waarlik opgestaan!” As jy dit nog nie met jou eie hart glo nie, staan jy op die drumpel van die hemel, maar tog daarbuite.

Here Jesus, ek loof U as die opgestane Heiland wat die lewe ná die dood vir my ’n werklikheid kom maak het. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mariekie ·

Baie dankie, ja dis ons enigste troos in lewe en sterwe dat ons aan God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees behoort.

Sonia ·

Wat kan groter, meer wonderlik, wees as hierdie belofte van die Opgestane Here Jesus Christus!? God se genade is waarlik onbeskryflik groot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.