Gedagte vir die dag: Lewe vir ander

koringveld_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

As ’n graankorrel nie in die grond val en sterf nie, bly hy net op sy eie bestaan; maar as hy sterf, lewer hy ’n groot opbrengs. (Johannes 12:24)

In die wêreld vandag is ons besonder bewus van lewe en dood. Op die nuus hoor ons omtrent net van moord, diefstal en mishandeling. As ons egter vandag se Bybelvers lees, sien ons dat daar lewe in dood is. Boere ken beslis hierdie beginsel beter as enigiemand anders – as ons ons saad in ’n droogkamer stoor, sal dit jare lank hou, maar dit sal ook niks voortbring nie. Sodra dit egter in die grond is, gaan die pit dood – en deur sy dood kom daar nuwe lewe.

Dis ’n basiese beginsel van die Christelike geloof. Jesus het vir ons sondes kom sterf, en as ons Hom as ons Here en Verlosser aanvaar en berou het oor ons sondes, kom ons tot bekering. Ons begin dan ’n nuwe lewe lei.

Een ding waarmee ons almal gekonfronteer word, is die gedagte aan die dood. Die dood is nie finaal nie, dis bloot ’n oorgang na die ewige lewe. Vir dié wat God ken en liefhet, is dit asof jy ’n deur oopmaak en in ’n ander vertrek instap.

Wanneer ons ons lewe aan die Here oorgee, is ons vry om voluit te leef. Ons kan alles doen wat God ons lei om te doen sonder om bang te wees vir mislukking of dat ons die Here sal teleurstel. Met ander woorde, God is in beheer, en ons kan ’n oorvloedige lewe lei. Wanneer ons vir ander begin leef, gee God vir ons nuwe lewe.

Kom ons kyk hoe ons ander kan help. Kom ons stel vas hoe ons beter pa’s, huweliksmaats, ma’s, broers, susters en vriende kan wees – en hoe ons na minderbevoorregtes kan omsien: diere wat sleg behandel word, arm mense, ou mense en eensame mense. Wanneer ons vir ander begin leef, sal ons self geseën word, want dit is onmoontlik om meer te seën as God.

Dierbare Jesus, ek is so dankbaar vir die onverdiende goedheid, genade en die oorvloedige lewe wat U aan almal aanbied wat in U glo. Mag ek hierdie seën ook by elke geleentheid wat ek kry aan dié bied wat minder bevoorreg as ek is. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bertie ·

Dankie vir die pragtige Woord vandag; dankie Jesus vir U genade. Help my ook om ander te dien en lief te hê soos U. Amen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.