Gedagte vir die dag:  Lewe

ou-tikmasjien_geskrewe-woord.jpg

Foto: pixabay.com

Lees 2 Korintiërs 3:1-6

Die letter maak dood, die Gees maak lewend (2 Korintiërs 3:6)

Paulus sê hier wat ons almal reeds weet:  Jou optrede verklap veel meer oor jou as wat ‘n skriftelike verslag ooit kan.  Letters-op-papier is dood; woorde moet geleef word.  Die een haal asem, die ander nie. So eenvoudig soos dit.

Daarom is sogenaamde aanbevelingsbriewe (of te wel getuigskrifte) nie regtig die papier of die moeite werd nie. Letters kan ingespan word om te lief of te verwar, te verdoesel of slinks te verswyg. Die getuigskrif wat saak maak, is die doen en late, die gesproke woorde wanneer daarvoor gevra word en die stilbly-op-die-regte-tyd.

Só begryp ons iets van Paulus se vreugde oor mense wat dit verstaan, wat hul hart op hul mou dra, wat hul woorde en dade nie op papier uitleef  nie maar in ‘n vlees-en-bloed-wêreld.  Daar waar hulle ’n verskil maak in hul omgewing en in ander se lewe.

Eintlik is dit logies dat Paulus nou die werk van die Gees by hierdie “lewende getuienis” byhaal wanneer hy die dooie letters en die lewende Gees teenoor mekaar stel. Hier bevestig hy dat as ‘n kneg van die letter voor ’n papiergod buig, hy gevaar loop om die lewendmakende werk van die Gees mis te loop.

Dit is sulke halsstarrigheid (om nie te sê verstoktheid nie) wat gelowiges en almal rondom hulle uiteindelik duur te staan kom.  Dit is immers die dood in die pot vir die kerk van Christus wanneer die laaste woord aan “daar staan geskrywe” behoort, in plaas van aan “só word daar gelewe”.

Leer my elke dag, o Gees, hoe om te lewe. Tot u eer en tot my naaste se heil.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.