Gedagte vir die dag: Lewegewer

hand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Esegiël 37:1-14

“Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe … ” (Esegiël 37:14)

Doodsbeendere! Dit was nog altyd ‘n aardige gesig vir die wat daarop afkom. In baie gevalle, onder andere by Jesus, het dit ‘n skelwoord geword. ‘n Aanduiding van iets wat vergaan het, sonder hoop op herstel. Al wat oorbly, is die grillerige getuienis van wat eens lewend was, dalk selfs belangrik. Nou is alles verby, en die oorblyfsels kan net so gelaat word, dalk toegegooi word, as jy genoeg respek vir die dood en die dooies het.

Stel jou die profeet se ontsteltenis voor toe hy tussen so ‘n klomp beendere beland en aangesê word – deur niemand minder nie as die Een in wie se diens hy is – om daar rond te loop en te sê wat hy van die spulletjie dink. En te antwoord op die vraag of daar weer lewe in die bene kan kom.

Hoe sal hy nou weet? Daarom luister hy aandagtig na sy Meester se opdrag, voer dit nougeset uit – en sien die verstommende gesig van uitgestrooide doodsbeendere wat weer aan mekaar begin heg, wat weer vleis om die been kry en vel bo-oor.

Daar kom egter eers weer lewe in die lyke toe die Wind daaroor begin waai en tot in die vlees-en-bloed deurdring. Toe die hopeloosheid van die situasie finaal omgekeer word. Wat eens doodsbeendere was, word nou lewende wesens. Wat afgeskryf en eenkant laat lê is, staan weer op.

Is alles nou weer soos dit was? Ja, wei, maar veel beter as toe. Nou weet almal hoe dinge inmekaarpas. Presies Wie dit is wat lewe gee.

Net U, o Gees, kan nuwe lewe gee. U heers oor lewe en dood. U Naam is Hoop.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.