Gedagte vir die dag: Lewegewer

ATTACHMENT DETAILS vrou_prys-God_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Jesaja 25:6-9

Hier sal die Here God die dood vir ewig vernietig, en die trane op almal se gesigte afvee (Jesaja 25:8)

Deur die eeue het gelowiges metafore gebruik om God te probeer omskryf. Al hierdie beeldspraak stuit egter onvermydelik op die voorlopigheid van hul oordeel, die beperktheid van hul woordeskat, die onmag van hul verbeelding. Kortweg: Ons weet te min van God om akkurate prentjies van Hom te teken. Ons potlode is heeltemal te stomp en ons papier te min. Ons kan doodgewoon nie so groot, so ver, so hoog en so wyd dink nie. Dit beteken nie dat ons nie gehelp word deur medegelowiges se pogings nie, veral dié in die Bybel. Wie is byvoorbeeld nie dankbaar vir die herderbeeld nie? Vir Jesus wat ons help om God “ons Vader” te noem wanneer Hy ons leer bid nie? En wat van die Ou Testament se “rots”, die Een met “die vleuels waaronder ons skuil”, die “vlerke waarop ons gedra word”? En die Nuwe-Testamentiese “boer”, “eienaar”, “regter”? Die boek Openbaring se “Een wat op die troon sit”?

Jesaja 25 gee ons op sy beurt die Gasheer wat ’n gulle feesmaal berei. En dan, te midde van die ete en drinke, sê die profeet Hy is boonop die Gewer van nuwe lewe. Die Een wat die versluierende, verstikkende doek van sy mense afgooi, sodat hulle weer kan asem kry en weer die lig kan sien. Só vee Hy sy mense se trane af. Só laat Hy hulle weer lag. Só vernietig Hy die laaste vyand.

En só kan ons Hom ook as die Lewegewer teken, met al die uitbundige kreatiwiteit waaroor ons beskik. Met ’n kleurryke, ewige vrolikheid in ons hart.

Here, U sien my trane, my vrese. Gee my tog nuwe lewe. Maak my bly oor alles wat U vir my is.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

M ·

Dit maak net nie vir my sin nie. As die doel standhoudende voedselvoorsiening is, waarom word suksesvolle plase aan ander gegee (met of sonder vergoeding) wat geen ervaring oor boerdery het nie.
Die doel word mos nou heeltemal gemis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.