Gedagte vir die dag: Lewende tekste vir die Here

sonsopkoms_lewe-voluit_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: 2 Korintiërs 3:6-8

Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het om as bedienaars van die nuwe verbond op te tree, nie met die wet as inhoud nie, maar met die Gees as inhoud. Want die letter maak dood, maar die Gees maak lewend. (2 Korintiërs 3:6)

Wanneer ek elke dag in die koerant lees van al die korrupsie, moord, roof en kapings, wonder ek soms of die kerk en die wette van die land nog enige impak het. Sonde is ’n vreeslike ding. Jy doen dit al weet jy dis verkeerd. Mense pleeg moord en steel al weet hulle hulle kan tronk toe gaan. Kinders is stout al weet hulle hulle gaan gestraf word. Dit wil dus voorkom of wette en straf mense nie afskrik om verkeerd te doen nie.

Dit is egter nie net ’n hedendaagse probleem nie. In 2 Korintiërs 3 sê Paulus die letter van die wet kan nie boosheid in jou lewe keer nie; jy moet die Gees hê om die sonde te keer. Die Heilige Gees sal jou bewus maak van die verkeerde. Hy sal jou gewete aanspreek en jou op jou tone hou. Jy sal dadelik weet of jy reg of verkeerd is. Die Gees sal dit in jou hart bewerkstellig. Om bewus te wees van die Gees moet jy Hom toelaat in jou lewe.

Jy moet fyn luister na sy stem en jou instel om Hom te hoor.

Die Here is besig om ’n nuwe storie te skryf oor jou lewe. Jy word nou ’n lewende teks vir Hom. Jou lewe word ’n getuienis vir Hom. Dit maak my egter so ’n bietjie bang, want ek lewe nie altyd reg nie. Ek struikel en mense sien dit. Ek sondig teen ander en mense beleef dit. Gelukkig kan ons genade ontvang en vergifnis vra van die Here. Ons kan opkyk en vir krag vra. Ons kan God vra om ons te gebruik as lewende getuies vir Hom. Die Heilige Gees sal jou lei om reg te lewe.

Here, ek wil ’n lewende teks vir U wees. Wees my genadig deur u Gees. Gee U vir my leiding om volgens u wil te lewe. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.