Gedagte vir die dag: Liefde is nooit teoretiese taal vir Jesus nie

Wolke_wederkoms_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Jesus het geantwoord: “Ek verseker jou, as iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy so nimmer as te nooit in die koninkryk van God ingaan nie.” (Johannes 3:5)

Mense is lief daarvoor om te sê: “Ons moet sonde haat, maar sondaars liefhê.” Tog is dit dikwels teoretiese taal. Te min mense wat dit sê, het verhoudings met dié wat hulle as “sondaars” beskryf. Lyk my hulle liefde vir “sondaars” is teoreties, maar hulle haat van sonde is prakties.

Hoe anders is Jesus nie. Hy het almal naby aan Hom toegelaat. Sondaars, vrate en wynsuipers was sy vriende, soos wat die godsdienstiges verwytend sê in Matteus 11. Jesus het ook met Fariseërs soos Nikodemus gekuier, soos ons in Johannes 3 lees. Hy het nooit verstrengel geraak in binnegevegte oor reg en verkeerd nie. Hy het dieselfde boodskap van genade en nuwe lewe vir almal gehad, godsdienstiges én sondaars! Liefde is nie teoretiese taal in Jesus se omgewing nie. Hy het nie éérs gedink wie is heilig en wie is “onveilig” voordat Hy met hulle gepraat het en saam met hulle geëet het nie. Almal, godsdienstiges en sondaars, is geregtig om etiketvry te wees in sy nabyheid.

Goeie teologie is om te weet die Waarheid het ’n Naam vol genade: Jesus! En om dit elke dag in almal se geselskap te beoefen!

Bron: ‘n Veilige Vesting deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.