Gedagte vir die dag: Liefde is ononderhandelbaar

see_sonsopkoms_hart_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê. (1 Petrus 1:22)

Die een eienskap wat vir ’n Christen ononderhandelbaar is, is liefde vir mekaar. Jesus sê duidelik dat mense wat mekaar liefhet, die hele wet vervul. Liefde is dan ook die eienskap wat God se kinders van alle ander mense onderskei.

Bybelse liefde is egter altyd in stryd met die mens se selfsugtige aard, en kom ongelukkig nooit vanself nie. Die Nuwe Lewende Vertaling stel dit vir my baie mooi: “Daarom moet julle sorg dat julle mekaar van harte liefhet, al vra dit inspanning.” Dit is net mense wat weergebore is wat mekaar op hierdie manier kan liefhê, skryf Petrus (vers 23).

In sy boek Wandel deur die Woord som Johan Smit dit mooi op: “Die liefde is nie die vrug van ons persoonlike vermoëns nie, maar die bewys van ons kindskap van God” (p. 279). Kan die mense wat jou ken al hierdie liefde in jou lewe raaksien?

Hemelse Vader, ek skiet so ver tekort as ek my liefde meet aan die onselfsugtige liefde wat U van u kinders vra. Help my om my liefde vir ander mense met my lewe te bewys. Amen.

Bron:
Geskenk van genade deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.