Gedagte vir die dag: Liefde spel selfopoffering

hart_strand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ’n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. (Johannes 15:13-15)

Ek stap verby die televisie terwyl my agtjarige meisiekind na ’n program op ’n kinderkanaal kyk en hoor toevallig die tekenprent-karakter uitroep: “It is all about me, me, me!” Ek draai verbaas om en sien hoe die karaktertjie rondspring en verder egoïsties uitbrei oor sy “ek-gesentreerde lewe”. Gelukkig kon ek van hierdie goeie geleentheid gebruik maak om vir klein Karmen te verduidelik dat die lewe beslis nie net om ’n mens self gaan nie.

Ons leef in ’n tyd en waar vir ons vertel word ons is “nommer een” en dat die lewe om my en my behoeftes draai. Die woordjie “dien” het ’n vloekwoord geword en die gedagte om selfopofferend te leef word as absurd beskou.

Jesus het egter met sy lewe vir ons kom wys hoe ons mekaar moet liefhê en sy liefde getuig juis van selfverloëning. Hy het voete gewas en mense gedien. Ons moet mekaar liefhê net soos Jesus Christus ons liefgehad het. Hy het ons enduit liefgehad, soveel so dat Hy bereid was om sy lewe vir ons te gee. Dit sal moontlik nie vir ons nodig wees om letterlik vir iemand te sterf nie, maar die feit is dat ons selfopofferend moet leef. Ons moenie net vir onsself leef nie en ons moet daagliks ons eie behoeftes opsy skuif terwille van ons naaste. Selfopofferende liefde help ander, bemoedig mense, toon begrip en skep ruimte vir mekaar. Nadat Jesus sy dissipels se voete gewas het, sê Hy iets wat ons dikwels mislees. Hy sê: Doen soos Ek, met ander woorde dien mekaar en julle sal gelukkig wees. Wanneer ons vir ander mense iets beteken, waarde toevoeg tot hulle lewe en nie meer net vir onsself leef nie, bied dit onblusbare vreugde en vrede. Iemand het eenkeer gesê: Die grootste beloning vir diensbaarheid is die bevrediging van jou eie hart. Toets gerus hierdie waarheid, jy sal vind dit is lekkerder om te gee as om te ontvang.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

Amen!

GL

Dit is waar, Amen.