Gedagte vir die dag: Met liefde van die Here

mense-op-strand-sonsondergang.jpgHere, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. ’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi. (Psalm 16:5–6)

Begin by die begin. Die Here is jou lewe en dis Hy wat jou die lewe gegee het. Ek weet nie hoe oud jy is en hoe ver jy kan terugdink nie. Onthou jy jou ma en pa, die huis en tuin, jou eerste skooldag, jou eerste maatjie? Ek onthou ons huis in Greytown en die groot jakarandaboom wat in die vroegsomer in die middel van ’n blou blommetapyt gestaan het. Ek het kaalvoet geloop en ’n perdebytjie wat in een van die blomme weggekruip het, het my gesteek. Ek het die seer vergeet, maar ek kan my ma se troos onthou.

Die lewe was en is goed vir my. As ek terugdink aan alles wat ek gekry het, bo en behalwe al die noue ontkomings en tweede kanse, kan ek net dankbaar wees. Alles, alles wat ek gekry het, kom van die Here af. Elke dag wat met soveel beloftes aanbreek, is Syne en Hy gee dit vir my om voluit te leef.

Ek kan doen wat ek graag doen – lees en skryf en my gedagtes met jou deel. Ek kan ook opstaan, met die trap afstap ondertoe en gaan tee maak. Twee jaar gelede was ek op my rug met my linkerbeen in ’n spalk. Die Here het my ’n ses maande lange vakansie gegee én nog ’n tweede kans. Hoeveel dae Hy vir my afgemeet het, weet ek nie – al wat ek weet, is dat alles wat ek gekry het, pragtig is en dat ek saam met my wintertuin uitsien na die nuwe seisoen.

Liefdevolle Hemelvader, dankie vir my lewe, vir my goeie man en vyf pragtige kinders, twee welliswaar aangetrou, maar net so mooi soos my eie. Ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.