Gedagte vir die dag: Liefde vir die natuur

Stroom_Berg_Reint_Dykema.jpg

Foto: Reint Dykema

Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! (Ps 8:2)

Ek wou so graag ’n teksgedeelte kry wat spesifiek verwys na mense se liefde vir die natuur. Maar in plaas daarvan het ek soveel plekke gekry waar daar verwondering oor God se heerlike skeppingswerke uitgespreek word. En ek glo dat geen mens wat in verwondering staan oor God se wonderlike skepping nie ook ’n gloeiende liefde daarvoor kan hê nie.

Gaan stap gerus saam met Job wanneer God hom op ’n uitstappie in sy skepping neem. Ontdek die wonder van die skepping saam met hom. En hou in gedagte op watter stadium God hom op dié besondere roete geneem het. Dit was nadat Job en sy vriende vir hoevele hoofstukke probeer het om God se bedoelinge te ontrafel, God probeer verstaan het. Uiteindelik het Job God ontdek, nie in geleerde teologiese toesprake nie, maar in die natuur.

Ons mag nie natuuraanbidders wees nie. In Bybelse tye was dit ’n groot gevaar. Die natuur is verafgod. Dit mag nie. Maar ons kan natuurbewonderaars wees omdat ons God daardeur die eer toebring. Ek kry die indruk dat die mens van ons tyd so in beslag geneem word deur tegnologie en materiële, mens gemaakte goed dat die wonder van die natuur by hulle verby gaan.

Maak tyd om in die natuur deur te bring. Kyk na die sterre. Besoek ’n wildreservaat of ’n akwarium. Gaan stap langs die see, in die veld, in ’n bos. Luister na die voëls met sonop in ’n natuurtuin. Kyk om jou rond om raak te sien. Sien jou Skeppergod se handewerk raak in blomme, veld, see, berge en diere. En prys God vir sy grootheid en heerlikheid.

Kweek ’n liefde vir die natuur en loof God vir sy skepping.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.