Gedagte vir die dag: Liefde vir die Woord

Vrou_strand_stiltetyd_lees-Bybel_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Psalm 119

U woord is ’n lamp vir my voete en ’n lig op my pad. (Psalm 119:104)

My moed het behoorlik in my skoene gesak toe ek Psalm 119 die eerste keer moes lees. Groot was my verbasing egter toe ek ontdek wat ’n skat daar in dié lang psalm opgesluit lê. Die skrywer van hierdie psalm is beslis baie lief vir God se Woord. En wanneer jy die psalm lees, ontdek jy ’n groot geheim van die lewe: As jy ’n liefde vir die Woord het, sal die Here ongetwyfeld deel wees van jou lewe.

Jy moet die Woord van die Here die hele dag oordink (v. 97). Die Woord gee insig (v. 104) wat jou sal help om die verkeerde pad te herken. As jy die Woord as riglyn vir jou lewe gebruik en elke dag aan God se hand vashou, sal jy deur die werking van die Heilige Gees gevaarligte sien flikker wanneer versoekings oor jou pad kom.

In vers 105 kry ons die bevestiging dat die Woord van die Here ’n lamp vir ons voete is; dit belig ons pad sodat ons kan weet waar om te stap. In vers 127-128 herinner die psalmis ons daaraan dat ons die Here se gebooie liewer moet hê as fyn goud, en dat ons die verkeerde pad moet haat. Dit is sterk woorde wat jy net kan sê as jy elke dag nougeset volgens die Woord lewe en dit liefhet.

Ten spyte hiervan is die psalmis steeds bang dat hy verkeerd sal doen en sonde die oorhand sal kry. Daarom vra hy in vers 133 dat die Here hom tog altyd op die regte pad sal hou. Psalm 119 inspireer my elke keer om die Bybel nog meer getrou te lees. Dan sal die woorde wat soeter as heuning is (v. 103) ons herinner om in elke faset van ons lewe nougeset te leef.

Here, gee vir my ’n liefde vir u Woord. As ek aan u Woord vas hou, sal dit soet in my mond wees en sal ek weet waar om te stap. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.