Gedagte vir die dag: Liefde vir God bied ewige hoop

mense-op-strand-sonsondergang.jpg

Foto: Annelize Brits

Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God isgetrou: Hy doen wat Hy beloof het. Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. (Hebreërs 10:23-24)

Voel dit soms vir jou of jy terugsak of selfs uitsak as dit by jou geestelike lewensreis kom? Hierdie gedeelte noem twee praktiese riglyne wat ’n mens kan toepas om jou terug in die resies te plaas.

Nommer een: Skep moed en kweek uithouvermoë deur styf vas te hou aan die Goddelike hoop. God sal beslis doen wat Hy beloof het en aan aardse lyding ʼn einde maak. God se genade is elke môre nuut, ons moet ons hele lewe lank verbete daaraan vasklou. Hy is gister, vandag en môre dieselfde, die rots op wie ons ons lewe kan bou. Ons moenie in wanhoop verval weens lewensomstandighede nie, of terugsak in ons geloofslewe nie. Hou moed, hou vol, hou vas aan God!

Nommer twee: Gelowiges moet na mekaar omsien en aanspoor om in liefde teenoor mekaar op te tree, ons moet met ander woorde goeie dade teenoor ander doen. Ons moet werklik aktief deelneem aan al die aktiwiteite van ons gemeente, want net dan sal ons medegelowiges mekaar voldoende leer ken om te weet in watter opsig ons liefde en goeie dade tekort skiet.

Wanneer ons mekaar liefhet, werk God in en deur ons en maak ons Hom sigbaar vir die wêreld. Augustinus het gesê: “Hy wat met liefde gevul is, is vol van God self.”

’n Nuwe lewe in Christus spel ’n nuwe verhouding met ons naaste. Ons moet ons blydskap en trane opreg met mekaar deel, ander se trane afdroog en elkeen se hande omhoog hou in moeilike tye. Net soos dit ons as aardse ouers se hartsbegeerte is dat ons kinders oor die weg moet kom en lief wees vir mekaar, só is dit ons hemelse Vader se begeerte dat ons, sy kinders, ons verskille opsy sit en mekaar sal liefhê – liefde is altyd ’n bietjie blind vir ander se foute!

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

pjk ·

Hi Annelize, jou boodskappies is vir my altyd so opbouend en so presies waar ek nou staan. Op die stadium voel dit of my Geestes lewe afneem. Jy kan nie meer bid nie, al wat ek bid is dat God my/ons stywer moet vashou. Ja ons glo….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.