Gedagte vir die dag: Liefde wat jy uitleef

seuntjie_pa_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.co.za

Moenie dat enigiemand minder van jou dink omdat jy jonk is nie. Wees ’n voorbeeld vir alle gelowiges deur wat jy leer, in die manier waarop jy lewe, in jou liefde, jou geloof en jou integriteit. (1 Timoteus 4:12)

In Paulus se lys van vyf belangrike karaktereienskappe ken hy die sentrale posisie toe aan die liefde. Hy daag Timoteus dan ook uit om ’n voorbeeld te wees van al vyf eienskappe: onberispelike woorde en gedrag, liefde, geloof en integriteit. Die eerste twee verwys na ’n mens se openbare optrede – wat jy sê en wat jy doen. Die laaste twee fokus op ons innerlike lewe – ons geloof en integriteit. Maar dit is die liefde wat hierdie twee kante van ’n mens se lewe bymekaarhou.

Soos reeds in 1 Timoteus 1:5 uitgewys is, behoort ons liefde voort te spruit uit ’n rein hart, ’n goeie gewete en ’n opregte geloof. Dié soort liefde sal bepaal wat ons sê en hoe ons lewe; dit sal ook ’n invloed hê op ons geloof en ons integriteit. Soos so baie ander Skrifgedeeltes oor die liefde word hier ook baie hoë standaarde gestel. En om op dié manier “’n voorbeeld” te wees vir ander gelowiges is al klaar ’n groot uitdaging.

Timoteus het in Efese groot probleme gehad met vals leraars en het waarskynlik gevoel hy is te jonk om dit te hanteer. Maar Paulus skryf: “Onsin! Wees net ’n goeie voorbeeld vir ander. Lewe reg. So sal jy gou die respek afdwing wat jou toekom.”

 Wil jy ’n goeie voorbeeld wees vir jou medegelowiges, vir ongelowiges, vir jou kinders en kleinkinders? Dink aan Christene wat vir jou ’n rolmodel is. Hulle is nie volmaak nie, maar ’n mens kan die liefde wat uit hulle straal, aanvoel, nie waar nie?

Watter soort voorbeeld is jy? Watter eienskap van Christus sien mense in jou lewe?

Bron:
My Stiltetyd-Oordenking
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Roset Coppens ·

Geseende Sondag (van n vlaamse leser!)
Vergeet van gistere se trane en vul hierdie dag met mooie herinnerings!
Als jy jou oggend omsoom met gebed sal jy minder geneig wees om te ontrafel deur die dag!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.