Gedagte vir die dag: Liefde wat nooit verflou nie

reenboog_perde_veld_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lank gelede reeds het die Here dit aan ons bekendgemaak: “Ek het jou lief met ’n liefde wat nooit ophou nie. Ek trek jou met troue liefde na My toe.” (Jeremia  31:3)

In die huwelik tussen God en sy volk het die liefde van die mense se kant af dikwels verflou. As een party se liefde in ons huwelike verflou, het dit dikwels die effek dat die ander party se liefde ook seerkry. Menseliefde is kwesbaar. Daarom is ons nogal bang in ons verhoudings, en verwag ek dat die ander party sal wegstap wanneer ek ’n fout gemaak het.

Netso is ons bang oor God se liefde ook. Daarom is dit wat ons in Jeremia 31:3 lees so kosbaar: “Ek het jou lief met ’n liefde wat nooit ophou nie. Ek trek jou met troue liefde na My toe.” God se liefde is onverfloubaar (as daar so ’n woord bestaan). Wanneer ek foute in my geloof maak en my liefde in ’n sekere lewensfase dalk verflou, kan ek bly vertrou op die troue liefde van God. Dis nodig om hierdie vers te lees spesifiek wanneer ek skaam en enorm teleurgesteld is in myself. Dan dink ek die Here voel oor my soos ek oor myself voel: moeg en ongeduldig. Maar genadiglik verflou God se liefde nooit.

Lees in Jeremia 31:3 wat Goddelike liefde is, en aanvaar dis waar vir jou ook.

Bron: Elke dag saam met God deur Henk Gous
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Dankie my Here dat U liefde vir my nooit verflou nie….hoe kan ek dit ooit met my mens verstand verstaan…..die lof eer en dank kom U alleen toe…Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.