Gedagte vir die dag: Liefde wat verflou

dor-droog-woestyn-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Ek onthou nog die toewyding van jou jeug, toe julle soos ’n jong bruid was wat My liefgehad het. Julle was toe bereid om My deur die dorre woestyn te volg. (Jeremia 2:2)  

’n  Huwelik begin (meestal) met baie liefde, maar wat daarna gebeur, is onseker. Daar is vreugde as liefde ná 50 jaar baie dieper en wyer gegroei het. Maar dis enorm hartseer as dit na ’n tyd verflou het. Die verhouding tussen God en sy volk word op baie plekke in die Bybel vergelyk met ’n huwelik. Baie keer het die Here teruggedink aan die begin van hul “huwelik” en hoe sy volk se liefde aan die begin was.

Liefde word veral geskaad deur ontrouheid. As ’n man of vrou se gedagtes begin fokus op iemand anders, kwyn huweliksliefde, want dit ly honger. Dit kry nie tyd en aandag nie, want iemand anders kry dit. Daarom word afgodsdiens dikwels in die Bybel as ontrouheid beskryf. Ongelukkig was daar telkens so ’n affair in Israel se geskiedenis. In ons tyd is daar nie sulke “outydse” afgode nie, maar as iets my kop wegtrek van die Here, is daar ’n affair aan die gang. Enigiets wat my tyd en aandag oorneem, is eintlik ’n afgod. Dink mooi: Wat vreet die tyd wat jy lank gelede aan die Here gegee het?

In Jeremia 2:2 lees ons hoe die Here terugverlang na Israel se liefde en trou van lank gelede. Verlang Hy na jou liefde en trou ook?

Bron: Elke dag saam met God deur Henk Gous
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat U die ewige troue God is…U liefde verflou nooit ooit nie…..Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.