Gedagte vir die dag:  Liefdeslied

Man_veld_Bybel_Stiltetyd_.jpg

Foto: teachingthem.com

Lees Psalm 119:97-104

Hoe lief het ek u wet! Dit bly my elke oomblik by. (Psalm 119:97)

In hierdie langste psalm sing die digter onbevange oor sy liefde vir God se woord en gebooie, van die eerste vers (“Dit gaan goed met … dié wat wandel volgens die woord van die Here”) tot by die 176ste en laaste vers (“ … u gebooie het ek nie verontagsaam nie”).

Enkele sinne uit hierdie psalm is van die mees aangehaalde in die hele Bybel, byvoorbeeld: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (Ps 119:105, 1933/53-vertaling) en: “Hoe kan ’n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord!” (Ps 119:9).

Feitlik vers na vers kom hierdie uitdrukkings voor: “u wet”,  “u gebooie”, “u bepalings”, “u verordeninge”, “u voorskrifte” en “u woord”. En daarom kan ’n Bybelleser dit met rede as ’n ode, ’n lof- lied, aan die Here se woord en sy wet beskou. Sommige sal selfs sê dit is niks minder nie as ’n liefdesverklaring.

Ag, en dit is so mooi! Vandag se gelese gedeelte is mos vol sekerhede (“U gebooie … is altyd by my” – v. 98) en vol troos (“Hoe aangenaam is u woord …” – v. 103) dat die leser nie anders kan nie as om diep onder die indruk van die waarde van hierdie woord en wet te kom.

Hoe het dit dan gebeur, kan ons ons afvra, dat hierdie einste woord-en-wet so in onguns geraak het? Dat dit deesdae so min invloed op gelowiges uitoefen? Kerkmense soos ons, ja, soos ek?

Ons het boonop soveel méér van hierdie woord-en-wet as ons medegelowiges wat voor Christus geleef het. Soveel meer insig as hulle. Hoekom maak dit alles ons nie bly nie? Hoe het die liefdeslied dan verstom?

Maak u woord vir my opnuut oop, Here! Dit is tog ’n lewenswoord.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here vir U kosbare woord dat ek my verdorde siel se dors daarin kan les….Amen

Riana ·

N gedagte om te sit en pyp stop. Ons vergeet maklik van God se gebooie. Al stem saam dis belangrik en ons riglyn vir n lewe saam God maar hoeveel van ons besef regtig wat dit van ons eis? Wat dit regtig beteken? Die eerste ding wat by my op kom wat ons almal aan skuldig is en niemand wil opgee nie, rn dis tog maklik, en dit is hoe hou ons die Sabatdag heilig? Deur nie kerk by te woon nie en winkels toe te gaan? En van die sondes om die maklikste reg te redeneer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.