Die Here het my smeking gehoor; die Here neem my gebed aan. (Psalm 6:10, Bybel in Afrikaans 1933/1953)
Dawid is hier in ’n absolute toestand: Hy is siek van kommer en van angs, hy huil dag en nag, sy liggaam is gedaan, uitgeput en verswak – sy oë is al dof van verdriet, skryf hy. Geleerdes dink hy beleef hier God se wegdraai en afwesigheid intens, ná sy sonde met Batseba.
Dan, reg aan die einde van sy klaaglied, kom hy met hierdie sterk uitspraak. Waar kom dit vandaan? Wel, dit kom direk uit sy gees uit – dis geloof wat praat. Terwyl sy liggaam en siel swak is, klou sy gees nog aan God vas. In sy diepste wese – in sy hart – wéét hy God weet waar hy is en hoe hy voel. Hy wéét God hoor sy smeking en neem dit aan.
Ten spyte van die donker diepte waarin hy sit, sien hy steeds daardie ligstraal. Ek en jy kan ook aanhou bely dat God goed is, dat Hy hoor, dat Hy weet, dat Hy op pad is, dat Hy sal ingryp – want Hy sal!
Here, in die donker sien ek ’n lig. Die lig is U – U is by my. Amen.