Gedagte vir die dag: Lig in die duisternis

pad_son_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

U is my lig, o Here. Here, U verlig my duisternis. Met U loop ek ’n leër storm, met my God spring ek oor ’n muur. God se pad is volmaak. Die Here se woorde is betroubaar. Hy beskerm dié wat by Hom skuil. (2 Samuel 22:29-31)

Dawid se lewe was voortdurend in gevaar, maar die Here het hom bewaar en vir hom alles voorsien wat hy nodig gehad het. God het dit deels gedoen deur Dawid te bemagtig om sy vyand sonder vrees aan te val. God het vir Dawid die regte pad aangewys en sy arms sterk genoeg gemaak om ’n boog te span en sy pyle met groot sukses af te skiet. Dawid het gesê: “Die Here is my lig en my redding. Vir wie moet ek dan vrees? Die Here is my lewenstoevlug. Vir wie sal ek dan bang wees?” (Ps. 27:1).

Maar God se belofte eindig nie hier nie. Die volgende vers sê God doen alles volmaak. Ons kan op sy beloftes staatmaak, want dit staan van ewigheid tot ewigheid vas in die hemel. Niks kan gebeur wat buite God se wil val nie, en Hy is die Een wat ons treë rig.

Wat laat jou voel asof die duisternis jou wil verswelg? Die onbekende toekoms? Die onreg waarvan jy in die nuus hoor of wat jy in jou eie lewe sien? ’n Onverklaarbare mistroostigheid? Wat jou duisternis ook al is, onthou dat God lig is. Hy sal jou duisternis met sy lig verdryf. Laat die Een wie se pad volmaak is en wat elke belofte wat Hy gemaak het, sal nakom die lig van sy teenwoordigheid tot in jou hart laat skyn. Hy sal jou bemagtig om die duisternis sonder vrees aan te pak en vir jou sy vrede gee.

Die lig skyn in die duisternis, ja – die duisternis het dit nie uitgedoof nie! – Johannes 1:5

Bron: In die skadu van die Allerhoogste deur Nancy Taylor & Chris Johnsen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
MAGRIETHA

Amen so waar

Cheryl

Here ek is niks sonder U nie.