Gedagte vir die dag: Lig in donker plekke

See-strand-Nathan-Steyn.jpg

Foto: Nathan Steyn

Ek laat die blindes loop op ’n pad wat hulle nie ken nie, Ek laat hulle op paaie gaan wat vir hulle onbekend is. Ek verander die donker voor hulle in lig en Ek maak die ongelyk plekke gelyk. (Jes 42:16)

Vir die ballinge in die tyd van Jesaja lyk dit of God afwesig en selfs nie by magte is om hulle te help nie, omdat Hy nie hulle omstandighede verander nie. Maar God belowe dat Hy weer vir hulle die donker plekke in lig sal verander en die ongelyk plekke gelyk sal maak. Reg deur die Bybel word swaarkrytye met donkerte vergelyk. Wanneer Jeremia op sy moedeloosste voel, kla hy: “Hy het my die donker in gejaag, my laat loop op ’n pad sonder lig” (Klaagl. 3:2).

As dit met jóú moeilik gaan, voel dit ook soms of alles om jou donker is en die son nooit weer sal skyn nie. Maar al kan jy die son nie sien op donker, bewolkte dae nie, is dit steeds daar. Net so is God jou Lig in donker tye en beloof Hy om altyd weer vir jou lig te maak.

“Al het ek tot ’n val gekom, ek sal weer opstaan, al sit ek in die donker, die Here is my lig,” getuig die profeet Miga. “Wanneer Hy my saak verhoor en oor my uitspraak lewer, sal Hy weer lig bring in my lewe, sal ek ondervind dat Hy die oorwinning gee” (Miga 7:8-9).

God kan jou omstandighede verander of jou help om dit positief te verwerk. God wil jou donkerte weer in lig verander. Vertrou Hom daarvoor.

Hemelse Vader, dankie dat ek hier in die donker weet dat U steeds by my is en dat U my huidige donkerte weer in lig kan verander. Ek bid dat U dit vir my sal doen. Amen

Lees Jesaja 42:10-16

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.