Gedagte vir die dag: Ligsinnige woorde

twee_mense_stap_sonsondergang_boekvat.jpg

Foto: jorgeschulz.wordpress.com

‘Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.’ (Matteus 12:36)

Jesus hoor nie net wat mense sê nie, Hy weet ook met watter gesindheid hulle dit sê. In dié geval het die Fariseërs die neerhalende aanmerking gemaak dat Jesus duiwels uitdryf met die hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die duiwels. Jesus het hulle daarop gewys dat hulle Hom nie net beledig nie, maar ook laster teen die Heilige Gees in wie se krag Hy wonderwerke doen.

Hiermee waarsku Jesus ook elkeen van ons. Verkeerde gedagtes kan jou gees besoedel, maar verkeerde woorde raak ook ander mense. Sodra jy jou mening hardop uitgespreek het, is dit uit en kan jy dit nie maklik weer terugtrek nie. Aanmerkings wat in woede of vir die grap op sosiale netwerke gemaak word, kan tot groot onenigheid en selfs hofsake lei, maar aanmerkings teen God is doodsveragtend.

Jesus kyk in jou siel en weet waar jou woorde vandaan kom. Hy waarsku jou teen jou eie ego, teen die selfvertroue waarmee jy grappe maak en God kritiseer en verkleineer. Filosowe het ook al verwys na God wat dood is, God wat ’n donker kant het en God wat nie bestaan nie. Wanneer jy oor God wil praat, moet jy versigtig wees om nie opgesweep te raak deur dinge wat ander mense sê nie. Bid ernstig dat Hy jou gedagtes sal suiwer en jou daarvan sal weerhou om ’n wêreldse saamprater te word.

Here, ons sondig dikwels teen mekaar en woorde glip soms uit wat ander seermaak en beledig. Maar ons hoor wat U sê – om teen U en teen die Heilige Gees uit te vaar, is onvergeeflik. Behoed ons asseblief daarvan.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elaine Myburgh ·

Hierdie is woorde, van onskatbare waarde, iets wat elke ouer op haar/sy kind amper- tiener, tiener en jong volwassene….. en ons eie hart kan druk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.