Gedagte vir die dag: Lippetaal

mense-gesels_mistig_berg_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? (Jakobus 2:14)

Jakobus wys ons daarop dat ons geloof ook ’n praktiese sy het. Jesus het ons van die Wet verlos, maar dit bevry ons nie van ons verantwoordelikhede as Christene nie. Ons moet ons beginsels in dade omsit, ons moet ook leef soos kinders van God. Dit beteken om onselfsugtig en mededeelsaam te wees, nie net met mooi woorde en bemoedigings nie, maar ook op ʼn praktiese manier.

Wat help dit om te sê jy glo in Jesus en jy loop by mense in nood verby sonder om jou hand in jou sak te steek, terwyl dit binne jou vermoë is om hulle finansieel te help? Die fisieke nood van armes word op allerlei wyse onder ons aandag gebring – in die media en by die kerk. As jou medelye nie oorgaan in praktiese hulp nie, kan jy nie van geloof in Jesus en sy beginsels getuig nie.

Jakobus draai geen doekies om nie: ‘Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood’ (Jak 2:15–17).

Het jy al beloftes van kos en klere gemaak en dit nie nagekom nie? Vergeet jy gereeld om jou bydrae vir jou kerk se diensfonds te gee? Tel jou seëninge en vergelyk dit met enigiemand wat slegter af is as jy. Het jy al die nuusbrokkie: Touching Lives op TV gesien? Hoe voel jy oor sulke oproepe? Doen jy iets as jy kan? Raak vandag prakties met jou geloof.

Liewe Vader, gee dat ons nie net met ons lippe getuig nie, maar ook met ons dade.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.