Littekens op ons siel kan uitgewis word

litteken

Foto: Roman Trifonov/Unsplash.com

Gal. 6:17: “Verder moet niemand vir my nóg moeite aandoen nie. Ek dra al klaar die littekens van Jesus aan my liggaam.”

Paulus se liggaam het littekens, merke gehad. Dit was nie die gewone letsels van die lewe wat ons almal maar langs die lewenspad opdoen nie. Dit was die vele littekens van die talle kere toe hy liggaamlik verniel en gemartel is omdat hy vir Christus gelewe en gewerk het. So, byvoorbeeld, praat hy in 2 Kor. 11:23-27 van slae, gevangenskappe, geseling, met stokke geslaan, steniging, aanslae op reise oor land en see, honger, koue en slapelose nagte.

Terwyl min van ons hier in Suid-Afrika hierdie soort littekens dra, is daar vandag steeds Christengelowiges wat aan hul liggame die merke kan wys wat hulle weens marteling en mishandeling terwille van Christus toegedien is. Talle word in ons dag steeds terwille van hul geloof tereggestel.

Ons almal het egter merke aan ons liggame – party meer, party minder. Die lewe gee aan ons littekens. In die eerste maande ná die geboorte van ons kleinkinders was dit vir my vertederend om oor hul armpies en beentjies te streel wat so sag en sonder letsels is. Trouens, toe dit die eerste keer gebeur dat hulle ‘n muskietbytplek het, was dit vir my amper ontstellend. Om te dink dat hierdie vleklose, ongeskonde liggaampies ook mettertyd littekens gaan dra.

Ek het toe aan my eie liggaam gedink – die aantal operasieletsels, merke van ongelukke en beserings van my kleintyd af.

Littekens spreek van seerkry, wonde en pyn. Elke litteken het ‘n storie om te vertel en gewoonlik herinner dit ons aan ‘n negatiewe gebeurtenis. Dit spreek gewoonlik van pyn, trauma en teëspoed.

Die lewe het op verskillende maniere ook fisieke letsels aan ons gelaat. Hoe ouer jy word, hoe meer word hulle.

Emosionele letsels is net so ‘n werklikheid, want die lewe, mense, dien ons ook innerlike wonde toe. Fisieke letsels is gewoonlik maklik sigbaar, emosionele letsels nie. Dis ook makliker om ons emosionele letsels weg te steek, maar hul impak is dikwels veel meer diepgaande.

Letsels spreek weliswaar van wonde wat genees het, maar soms neem ‘n mens se innerlike wonde veel langer om te genees. In sommige gevalle sluimer dit vir ‘n groot deel van ‘n mens se lewe, iewers weggesteek, gekamoefleer. Die effek daarvan is egter partykeer moeilik om te verberg, want wonde spreek altyd van pyn.

Die liggaamsdeel wat die gouste genees en die minste – indien enige – letsel oorhou, is die tong. Tog is dit ironies dat juis die mens se tong waarskynlik die instrument is waardeur die meeste en pynlikste innerlike wonde veroorsaak word.

Dis belangrik om te besef dat, alhoewel littekens ons gewoonlik aan seerkry herinner, dit dikwels ook kan dien as ‘n getuienis –  ʼn getuienis dat God ons deur ‘n ellende gebring het en dat ons somtyds as gevolg daarvan sterker geword het.

Dis óók belangrik dat ons moet verstaan dat jou letsels jou nie hoef te definieer nie. Jy is méér as wat met jou gebeur het. Jou letsels hoef jou nie as ‘n patetiese mens agter te laat nie. Wat jy besluit om ná jou seerkry en verwonding te doen, kan jou juis ‘n beter mens maak!

Sonde laat ongelukkig ook letsels. As sonde nie in die wêreld gekom het nie, sou daar geen geestelike, emosionele of liggaamlike letsels gewees het nie, want direk of indirek is alle gebrokenheid die gevolg van sonde – nie altyd ons eie sonde nie, maar weens die onvolmaaktheid en gebrokenheid wat die bose en sonde in die wêreld gebring het.

Tog is daar sommige van die letsels wat ons dra – geestelik, emosioneel en selfs fisiek – wat ons aan ons eie sonde herinner. Letsels herinner ons dat sonde soms pyn en smart tot gevolg het.

Genadiglik kan die sondelittekens in ons gees en siel uitgewis word. Johannes sê immers: “… die bloed van Jesus, sy Seun, maak ons skoon van elke sonde.” (1 Joh. 1:7)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

Ons het ongelukkig net te veel sielkundiges op preekstoele en te min predikers… Inderwaarheid ook te veel sieners… met hiper-vergrootglase…

Sosinies ·

Laurika Rauch sing die liedjie: “Ek is bang vir die spoke… van dae lank gelede, wat my nie wil toelaat, om liefde te gee….”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.