Gedagte vir die dag: Lof

 aanbid_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 103:1-8

Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie (Psalm 103:2)

Lof aan God is nooit ’n maklike onderwerp nie. Verskillende gelowiges het verskillende menings hieroor, en soms is dit erg uiteenlopend. Trouens, gelowiges se verskille oor lof aan God grens dikwels aan slegsê, of wê! sê.

Dan gaan dit só: Ja, julle met die armswaaiery en die blink oë en die wiegende bolywe – julle maak van die lof wat God toekom ’n goedkoop foefie wat al die aandag op julleself vestig! In plaas daarvan dat die omstanders sê: O, wat ’n grote God! gee hulle julle net een kyk en sê: O, wat ’n Geesgevulde klomp lofbringers!

Die terugskreeu klink dan ongeveer só: Julle gevrektes wat so koponderstebo sit en met lippe wat skaars beweeg “prys die Heer” sing asof dit ’n begrafnislied is – julle weet nie wat dit is om Hom te loof nie. Julle sit en kry bloot julleself jammer!

Nie een van dergelike reaksies hoort by God se dankbare kinders nie, wát jou gewoonte of geneigdheid of oortuiging ook al is. Lof aan God is nie in ’n vaste patroon gegiet nie. Dit is nie ’n wet wat geen afwykings duld nie. Lof is jou dankiesê aan Hom vir alles wat Hy vir jou is en doen en gee, en dikwels is hierdie weldade baie persoonlik.

Daarom is die lof aan Hom ook baie persoonlik: Dit is jou saak en niemand anders s’n nie. Hoe jy kies om dit te doen, is van geen belang nie.

Wat saak maak, is dat jy nie een van sy seëninge vergeet nie. Dat jy hulle sal blý tel, een vir een. En dat jy dan telkens “halleluja!” sê, of jy dit nou uitjubel of binnensmonds mompel.

Ek wil U, Here, loof ! Met alles wat in my is, wil ek u heilige Naam loof.

Bron:
Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.