Gedagte vir die dag:  Loflied!

mense_vrolik_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 145

Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol liefde. (Psalm 145:8)

Wat ’n loflied! En wat ’n geskenk is dit nie in ’n tyd soos dié nie.

Ja, soms wil jy bloot dankie sê. Kom jy opnuut onder die indruk van jou ontelbare seëninge. Sien en hoor jy van ander se ellende, en dan gaan jou hart na hulle uit.

En dit blom óóp in jou diepste binneste en jy wil uitroep: “Die Here is groot, alle lof kom Hom toe …” (v. 3). Nee, hierdie keer wil jy niks vra nie. Jy skaam jou vir al jou klagtes. Jy wil bloot “halleluja!” sê.

As jou woorde egter opraak of jou gemoed te vol is, dan help hierdie psalm baie. Ook as jy nie gewoond is aan dergelike jubelende gebede nie.

Hier hoor jy (of word jou vermoede bevestig) dat die Here se goedheid van lankal af kom. Van vér af. Dat die geslagte voor jou al daarvan geweet en daaroor gejubel het. Dat dit vir almal wat na Hom kyk vir hul volgende maaltyd, ’n troos is dat Hy hulle raaksien (vgl. v. 15) en dat Hy sy hand vir hulle oopmaak en oorvloedig gee (vgl. v. 16). Dat sy kinders se nood nie by Hom verbygaan nie. Dat Hy naby hulle én hul nood is (vgl. v. 18-19).

Daarom, dankbare mens, lees hierdie psalm hardop. Doen dit weer en weer. Laat hierdie ou, ou woorde nuut word in jou gemoed. Pas die destydse besonderhede aan by jou eie gewaarwordinge. Laat die psalmdigter se “ek” gerus jou eie “ek” word.

En laat sy digterlike vryheid ook jou emosies loslaat. Lag saam met hom. Waag dit om deur sy entoesiasme oorrompel te word. Werklike lof laat hom mos nie voorskryf nie, en dankbaarheid hoef tog nie brieke te hê nie.

Here, hoor my: Halleluja! Halleluja! Halleluja!

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

S.M. ·

Baie dankies vir die wonderike en bemoediging en boodskap. Waarlik – God se iefde is onmeetbaar. Loof Sy heilge naam!

Von ·

Dankie dankie Barmhartige Here….U genade is kosbaar…..al die lof en dank en eer kom U alleen toe

Jaco ·

Baie dankie aan MM vir die daaglikse boodskappe.
dankie Heer dat U my in oorvloed seen. Damkie Heer vir alles wat U aan my gee, alles wat ek het kom van Uaf wat myne is U sin, Heer gee my asb die wysheid om dit wat U my mee seen reg sal gebruik en bestuur. Ons God is groot

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.